Witeiland: Nog ʼn beseerde sterf in hospitaal

Foto: (Michael Schade via AP, File)

Die dodetal het verder gestyg ná die vulkaniese uitbarsting vroeër vandeesmaand op Nieu-Seeland se Witeiland.

Die polisie het Maandag gesê ʼn persoon is Sondagaand in ʼn hospitaal in Auckland dood. Die dodetal staan tans op 17 terwyl twee mense steeds vermis word.

Daar was 47 mense op die eiland toe die vulkaan op 9 Desember uitgebars het. Die owerhede het vroeër gesê talle mense is op slag dood terwyl meer as 24 mense met ernstige beserings in hospitale opgeneem is.

Die twee vermiste persone se liggame het vermoedelik in die see beland tydens ʼn storm kort ná die vulkaniese uitbarsting.

Helikopters en bote is gebruik om die beseerdes onmiddellik ná die uitbarsting van die eiland te verwyder. Nood- en reddingswerkers kon egter eers vier dae later na die eiland terugkeer aangesien dit as te gevaarlik beskou is.

Talle van die slagoffers en beseerdes is Australiese toeriste wat met ʼn passasierskip gereis het. ʼn Amerikaanse egpaar wat op hul wittebrood was, is beseer is tydens die uitbarsting.

Witeiland, ook bekend as Whakaari, is die punt van ʼn ondersese vulkaan sowat 50 km van Nieu-Seeland se Noordeiland en was ʼn gewilde toeristebestemming voor die dodelike uitbarsting. Dit is nog nie duidelik of die eiland, wat in private besit is, weer vir toeriste sal heropen nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.