Woede oor hoë poste vir Mnangagwa se seun, broerskind

Pres. Emmerson Mnangagwa van Zimbabwe. (Foto: Mike Hutchings/Pool Photo via AP, File)

Emmerson Mnangagwa, die man wat onlangs herverkies is as Zimbabwe se president, word fel gekritiseer nadat hy sy seun en broerskind vandeesweek in belangrike ministeriële poste aangestel het.

Mnangagwa het Dinsdag sy nuwe kabinet ingesweer. Mnangagwa se seun, David Kudakwashe Mnangagwa, is as adjunkminister van finansies ingesweer. Sy broerskind, Tongai Mnangagwa, het die pos van adjunkminister van toerisme.

David Mnangagwa sê sy aanstelling het as ʼn skok gekom. “Gister is vir my steeds ongelooflik,” het hy ná die inswering aan verslaggewers gesê.

Hy sal onder Mthuli Ncube dien, wat volgens kritici grootliks verantwoordelik is vir die land se ekonomiese ineenstorting en hemelhoë inflasie, maar nietemin sy ministeriële pos behou het.

Die opposisie bestempel intussen Mnangagwa se nuutaangestelde kabinet as “die ergste sedert onafhanklikheid”.

“Bestaande uit [Mnangagwa] se vriende, familie, lojaliste en mense wat die minste gekwalifiseer is, is die kabinet die swakste sedert Zimbabwe se onafhanklikheid in 1980,” het Promise Mkwananzi, ʼn woordvoerder van die opposisieparty die Citizens Coalition for Change (CCC) gesê.

Mnangagwa, wie se ZANU-PF-party al meer as vier dekades lank aan bewind is, het vir die eerste keer aan bewind gekom ná ’n staatsgreep wat die ontslape leier Robert Mugabe in 2017 uit die kussings gelig het. Mnangagwa het die presidensiële verkiesing ʼn jaar later naelskraap gewen.

Mnangagwa is op 23 Augustus vanjaar herkies, met 52,6% van die stemme teenoor 44% vir die CCC-leier, Nelson Chamisa.

Die CCC het die uitslag as “foutief, chaoties en onwettig” bestempel en ʼn nuwe verkiesing geëis.

Streeks- en internasionale waarnemers sê ook daar het talle onreëlmatighede tydens vanjaar se verkiesing in Zimbabwe ingeglip.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Althes ·

Zimbabwiërs het te lank toegelaat dat outokrate hul land regeer. En die outokrate maak wat hul wil, wanneer hul wil. Ek hoop en bid dinge verander vir hulle in die toekoms.

Jo-Anne ·

So met ander woorde: Die res van Zimbabwe gaan nou Suid Afrika binne stroom.

Euodia ·

Hy volg maar net sy tjommie se voorbeeld hier in SA. Stel sy kaders en tjommas aan. Ja en die Zimbabwiers met wie ek al hier gepraat het sien swarigheid vir SA nes Zim.

Frikkels ·

Wat is verkeerd met die oposisie in Zimbabwe? Organiseer en voer ñ staatsgreep uit. Gee hom sy eie medisyne.

George ·

Zimbabwe doen presies dieselfde as wat ons korrupte ANC regering doen….stel familie….kennisse…vriende aan …deel van die kader ontplooing om in beheer te kan bly in die regering …jy krap my rug en ek krap joune ????????????????

Heinrich ·

Waar is Cyril, gaan hy nie ‘n glasie klink op die nuwe aanstellings nie…Zim het dan gesien hoe goed daardie taktiek hier by ons werk…

domheks ·

Die ou man volg maar net SA se voorbeeld. Net sekere geldwolwe kry poste. Hulle moet goed weet wanneer die trog vol is en dan genoeg eet.

Niklaas ·

Waaroor is daar verbasing en gekla ? Nepotisme beteken “baantjies vir boeties”. Dis die absolute norm in Afrika en sal nooit uitgewis raak en verdwyn nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.