Wyle prinses Diana se ikoniese skape-trui verkoop vir miljoene

ʼn Personeellid staan by die ‘Black sheep’-trui wat deur Sally Muir en Joanna Osborne ontwerp is, en verskeie kere deur wyle prinses Diana gedra is. (Foto: Daniel LEAL / AFP)

Wyle prinses Diana se ikoniese rooi trui met wit skapies en een enkele swart skaap – wat volgens sommige dalk net haar onstuimige reis as lid van die Britse koninklike familie voorspel het – is Donderdag op ʼn veiling vir miljoene rande verkoop.

Die rooi trui, wat die ontslape prinses in Junie 1981 gedra het – kort ná haar verlowing aan prins (nou koning) Charles – is vir $1,1 miljoen (sowat R21 miljoen) verkoop.

Die trui is aanlyn deur die wêreldbekende afslaersgroep, Sotheby’s, verkoop tydens ʼn dolsinnige finale veiling.

Die koopprys is tien keer meer as die aanvanklike bedrag wat Sotheby’s geraam het die item sal behaal.

Weens ʼn toeloop van botte het die afslaers die veiling met ʼn paar minute verleng, met die bedrag wat in die laaste 15 minute van die veiling ʼn astronomiese sprong van $190 000 tot $1,1 miljoen gedoen het.

Volgens Sotheby’s is dit die grootste bedrag wat nog ooit betaal is op ʼn veiling vir ʼn kledingstuk wat aan prinses Diana behoort het. Dit het selfs meer gehaal as die Infanta-styl-aandrok wat in Januarie vir $604 800 (sowat R11,5 miljoen) verkoop is. Dit is nou ook die waardevolste trui wat ooit opgeveil is.

Diana het in Junie 1981 as ʼn skugter 19-jarige die trui, waarop ʼn enkele swart skaap tussen ʼn patroon van wit skape pryk, tydens ʼn polo-wedstryd gedra.

Diana in die nou ikoniese ‘Black sheep’-trui. (Foto: Pinterest)

Die sogenaamde “Black sheep”-trui is destyds deur die onbekende ontwerpers Sally Muir en Joanna Osborne vervaardig. Hul breimaatskappy, Warm and Wonderful, het gevolglik wêreldwyd bekendheid verwerf.

Weke nadat Diana in die trui afgeneem is, het die ontwerpers ʼn skrywe ontvang dat een van die trui se moue beskadig is, met die versoek dat dit vervang of herstel word.

Die ontwerpers het vir haar ʼn nuwe trui gestuur en het intussen daarna aangeneem die oorspronklike weergawe is herstel en na ʼn ander kliënt gestuur. In Maart vanjaar het Osborne egter die trui in ʼn klein boks op haar solder gevind.

Diana is in 1983 in die vervangde weergawe van die trui afgeneem.

Saam met die trui is die brief oor die herstelwerk en ʼn bedankingsnota van Diana se privaat sekretaris, Oliver Everett, ook opgeveil.

“Black sheep” is in 2020 weer vervaardig vir verkope ingevolge ʼn samewerkingsooreenkoms tussen die modehandelsmerk Rowing Blazers en die oorspronklike ontwerpers, Muir en Osborne.

Die trui is só ikonies dat ʼn namaaksel daarvan selfs in die vierde seisoen van die bekroonde Netflix-drama, The Crown, wat geskoei is op die hedendaagse geskiedenis van die Huis van Windsor, verskyn het.

Bykomende bronne: AFP, BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sues ·

Haha, en iemand was so mal om die trui te koop, dit kan enige iemand se trui wees, al wanneer hulle kan sê dit was Diana se trui is as net een daarvan gemaak is.

Sues ·

Dis sad dat iemand soveel vir ‘n trui betaal wat enige iemand sin kan wees. As daar net 1 so trui gemaak is dan kan ons glo dit was Diana sin maar duidelik was daar meer as 1 gemaak en aan mense verkoop. Jammer mense is so gullible.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.