Zimbabwe sal ‘goudmafia’-bewerings ondersoek

Skermgreep uit die video

Zimbabwe se regering het Dinsdag gesê hy sal ondersoek instel na bewerings van bedrog en korrupsie wat deur ʼn dokumentêr oor goudsmokkelary en geldwassery in die land onthul is.

Gold Mafia, ʼn joernalistieke ondersoek in vier dele deur die Katar-gebaseerde uitsaaier Al Jazeera, voer aan daar is sindikate met verbintenisse aan staatsamptenare wat Zimbabwe se gouduitvoere gebruik om geld te was.

“Die regering beskou die bewerings in die dokumentêr in ʼn baie ernstige lig,” het Monica Mutsvangwa, minister van inligting, tydens ʼn perskonferensie gesê. “Enigiemand wat hulself aan bedrog, korrupsie of enige ander misdaad skuldig maak, sal vervolg word.”

Die land het groot goudreserwes en die edelmetaal het in Mei verlede jaar sowat ʼn derde van alle uitvoere verteenwoordig, aldus amptelike data.

Gold Mafia wys hoe goudhandelaars, wat deur Zimbabwiese owerhede gelisensieer is, vir verslaggewers, wat hulself as internasionale misdadigers voordoen, aanbied om geld deur Zimbabwe se gouduitvoere te was.

Die eerste twee episodes, wat ʼn oproer in die land veroorsaak het, is in Maart uitgesaai. Nog twee episodes word in April uitgesaai.

Die regering het homself Dinsdag oënskynlik van die handelaars gedistansieer. Mutsvangwa het gesê “spoggerige gedrag en om bekendes se name in die dokumentêr te noem moet nie beskou word as ʼn verkondiging van regeringsbeleid nie”.

Zimbabwe se sentrale bank het vroeër in Maart bewerings deur die TV-ondersoek afgemaak as “valse bewerings wat die indruk wil skep dat die bank Suider-Afrika se wasmasjien is”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

ES ·

Volgens die dokumenter is Zim se president direk betrokke – sou nou wil ek weet – net soos met ons land, gaan die regerende party hul eie president ondersoek en skuldig bevind?

Die antwoord is vanselfsprekend.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.