Yanks wil in Springbokke belê

(Foto: @Springboks/X/Twitter)

Ackerley Sports Group (ASG), ʼn Amerikaanse beleggingsmaatskappy, wil ʼn vennootskap met SA Rugby (Saru) sluit.

Indien daar in die raadsale ooreengekom kan word, kan Ackerley sy beursie groot oopmaak en $75 miljoen (ongeveer R1,4 miljard) gee om ʼn aandeel in Saru se kommersiële regte te bekom.

Kragtens die bepalings van die ooreenkoms, wat onderhewig bly aan verdere onderhandelinge en finale goedkeuring deur die provinsiale rugbyunies, sal ASG belê in ʼn houermaatskappy vir al die inkomste – huidig en toekomstig – wat uit die Springbokke en Saru se bates vloei.

Saru sal steeds die meerderheidsaandeelhouer wees, terwyl die Ackerley-groep ʼn beduidende minderheidsbelang bekom.

Daar word agter die skerms gewerk om op alle vlakke in Suid-Afrikaanse rugby te belê, die professionele spel te ondersteun en die inkomstebasis van die Springbokke en Saru se kommersiële aktiwiteite te vergroot.

Natuurlik is die Springbokke se sukses op die internasionale verhoog ook ʼn groot trekpleister vir enige belegger.

Toe Siya Kolisi verlede jaar die Webb Ellis-trofee op die Stade de France in Parys omhoog hou, was dit die vierde keer in Suid-Afrika se roemryke rugbygeskiedenis dat die Bokke met die Wêreldbeker-louere wegstap.

Suid-Afrika is tans ook die voorste span op Wêreldrugby se amptelike punteleer.

“Ons is opgewonde oor die vooruitsig om saam met die Springbokke – ’n legendariese internasionale sportfranchise – te werk. Ons vennootskap kan vir ʼn wêreldwye uitbreiding van die mees ikoniese handelsmerk in rugby sorg,” sê Ted Ackerley, medestigter van ASG.

Volgens Ackerley verteenwoordig die belegging ʼn unieke geleentheid om sukses op die rugbyveld met die nodige hulpbronne te kombineer. Sodoende kan die Bokke se status as internasionale sportkrag onderhou word.

Hy meen dat ASG oor die nodige ondervinding en passie vir uitnemendheid beskik om van die vennootskap ʼn sukses te maak.

“Ons sal ook aandagtig na die mense van Suid-Afrika luister om te sorg dat die Springbokke voortgaan om die geskiedenis en kultuur van hierdie wonderlike land te weerspieël.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

JohanR ·

Hoop nie die Springbok word aan Amerikaaners verkoop, maak nie saak vir hoeveel nie?

Witwax ·

Moenie nou geld betaal nie, wag eers tot na ons verkiesing. “cancer” is nog in beheer.

piet ·

Dit lyk vir my na peanuts vir ‘n Amerikaanse maatskappy. Die VSA Ope gholftoernooi se totale prysgeld verlede jaar was byvoorbeeld 65000 dollar en dit is een toernooi. Maar SARU moet seker maar vat wat na hulle kant toe kom.

Manie ·

Stap nou weg, as ‘n Yank eers sy hande op jou gelê het, is dit goodbye Charlie.

Chris ·

Ek sit tussen twee vure. Ek weet nie wat die fynskrif sê nie. My eerste gewaarwording is
1. Dit sal ‘n absolute futiele besluit wees om met die Amerikaners in die bed te klim. Hulle doen nooit iets sonder teenprestasie nie.
2. Miskien is dit ‘n goeie idee en die kwota en BBEEE (wat ookal) stelsel word nek omgedraai. Die huidige spelpatroon is reeds op die “stampkar/grid iron” formaat geskoei.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.