19 radio-prysbenoemings vir Groot FM

Die span van Groot FM. (Foto: Facebook/Groot FM)

Groot FM blink uit as een van die land se gemeenskapsradiostasies wat vanjaar vir die meeste Suid-Afrikaanse Radio-toekennings benoem is, met altesaam 19 benoemings.

Die benoemings vir dié gesogte pryse is Maandag bekend gemaak. Die toekennings gee erkenning aan radiostasies oor die hele Suid-Afrika heen.

Pieter Cloete, Nina Coetzer, Jacques du Preez, Jennifer Myburgh, Francois van Rensburg, Annelie Bouwer, Anelma Meiring en Sonet Stofberg – bekende persoonlikhede wat daagliks Groot FM-luisteraars geselskap hou – is almal vir ʼn toekenning benoem.

“ʼn Groot dankie aan elke rol- en spanspeler, elke kliënt en luisteraar,” het Groot FM in ʼn verklaring gesê.

“Bowenal, dankie aan ons Hemelse Vader wat vir ons hierdie platform gee om ʼn fasiliteerder van sy lig te kan wees.

“Soos die Engelsman sê, ‘there is no I in team’, en daarom bedank ons nie net die rolspelers op die voorgrond nie, maar ook dié wat agter die skerms floreer! Van die verkope- en inwerkingstellingspan tot die bestuur- en tegniese span. Baie geluk ook aan al die ander benoemde stasies.”

Pretoria FM se nuusprogram Klankkoerant en sy dramaprogram, Malchus, is ook benoem. Hennie Koortzen, bekende omroeper en radioveteraan, word vanjaar in die Hall of Fame ingehuldig.

Bok Radio se Bok Brekfis is in die kategorie vir ontbytprogram deur ʼn gemeenskapsradiostasie benoem.

Radio Helderberg en Radio Tygerberg is ook vir ʼn handvol toekennings benoem. Christa Mostert van Maluti FM het ook ʼn benoeming ingeoes.

Jacaranda FM is benoem vir 14 toekennings in die afdeling vir kommersiële radiostasies. Martin Bester is benoem as ontbytprogram-aanbieder, asook sy program, Breakfast with Martin Bester.

Die gemeenskapsprojek Good Morning Angels is drie keer benoem, terwyl nuweling Owen Crafford vir die Bright Star-toekenning benoem is.

Rian van Heerden is benoem as middagprogram-aanbieder, asook sy program, The Scenic Drive with Rian.

Tuks FM van die Universiteit van Pretoria, Vow FM van die Universiteit van die Witwatersrand, Puk FM van die Noordwes-Universiteit en UJ FM van die Universiteit van Johannesburg is in talle kategorieë in die afdeling vir kampusradiostasies benoem.

Die wenners word op 26 November bekend gemaak. Vir meer inligting oor die SA Radio-toekennings, besoek www.radioawards.co.za.

Hier is ʼn volledige lys van die benoemings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Bosveldbul73 ·

Baie bly om te hoor! Ek wens net GrootFM se seinsterkte kan verbeter. Ons bly net anderkant Forest Hill-inkopie sentrum in Centurion, maar ons kan nie die stasie op ‘n gewone FM-radio opvang nie…

Ronél ·

Baie geluk, wees geseënd, mag Vader se guns oor julle reën en dankie dat jul nie skaam is vir SY NAAM nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.