‘Plattelanders’: Nuwe radiodrama vol spanning, liefde en humor

 PlattelandersFinaal.jpgMaroela-fontein lyk net soos enige ander plattelandse dorpie – rustig, kalm en ver van die stad se gejaag en daaglikse dramas. Maar is dit regtig so ʼn stil, rustige plekkie sonder enige geraamtes?

Plattelanders is presies dit – ʼn sterbelaaide drama vol humor, romanse, spanning, lekker skinder, geheime en veel meer.

Maroela Media se opname‑ateljee is weer die afgelope tyd in rep en roer soos Bettie Kemp en haar span akteurs werskaf om weereens vir gemeenskapsradiostasies ʼn splinternuwe radiodrama te bied.

Dié radiovervolgvervaal, uit die pen van Joe Kleinhans, het hoof‑ sowel as spanningvolle storielyne wat só verweef is om die luisteraar vasgevang te hou. Bettie is egter van mening dat daar ʼn lekker balans is: “Hier word ook vir mekaar omgegee, hier is ook goeie dinge wat gebeur.” Sy beloof ook ʼn goeie dosis humor.

 Plattelanders_akteurs_001.jpeg

Plattelanders se span akteurs. Voor is Lochner de Kock en Bettie Kemp. Agter is Richard van der Westhuizen, Natasje Jacobs, Ria Smit, Duncan Johnson en Johny Klein.

Vir Bettie, wat self die rol van Klara Korsten vertolk, is dit belangrik dat die akteurs hulle in hul karakters sal ingrawe. “Met die eerste opname het ek vir al die akteurs gesê ons skryf nie té ver vooruit nie. Ons wil eers kyk wat bring elkeen na sy of haar rol toe.” Die luisteraars moet hulle met van die karakters kan vereenselwig. Hulle moet kan lief word, kwaad word en deel word van Plattelanders.

Maroela Media is al vir ses jaar betrokke by die vervaardiging, finansiering en verspreiding van radiovervolgverhale. Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, bevestig dat dié produk spesifiek vir gemeenskapsradio vervaardig word. “Gemeenskapsradiostasies doen ongelooflike werk vir Afrikaans. Maroela se hart is Afrikaans en buiten dit wat ons self doen, probeer ons kyk hoe ons ander instansies wat ook Afrikaans op die hart dra, kan ondersteun.” Sy  verklap dat die storielyn van Plattelanders spesiaal uitgesoek is: “Die drama speel af op die dorpie Maroela-fontein . Maroela-fontein  is boonop ʼn leidraad vir iets lekkers wat later die jaar kom!”

Plattelanders_opname_003.jpeg

Bettie Kemp en Marius Vermaak tydens ‘n opname.

Nog ʼn eerste vir Maroela Media is die temalied van Plattelanders. “Ons het vir Maroela-fontein  sy eie liedjie geskryf. So, Maroela het van nou af sy eie temaliedjie.” Die vollengte weergawe van “Plattelanders” sal later dié jaar bekendgestel word. Die lied is geskryf en opgeneem deur Michael van der Walt en Christiaan Muller.

Sonder om te veel weg te gee, vertel Susan meer oor die karakters. “Dit is ʼn interessante groep karakters saam, maar elkeen van hulle het ʼn geraamte in die kas. En daar is eintlik een groot geheim. Al die karakters se geraamtes wat in die kas wegkruip, is ʼn legkaartstukkie wat uiteindelik aan die einde van die storie sê wat is die eintlike geheim.”

Bettie, Richard, Lochner, Duncan, Natasja en Ria tydens ‘n opname in Maroela Media se ateljee.

Die luisteraar gaan kennis maak met Klara Korsten (Bettie Kemp), die spogsakevrou op die dorp wie se man ná ʼn beroerte aan ʼn rolstoel gekluister is. Daar is ook die nuwe “wewenaar” wat sy intrek neem op Maroela-fontein , dr. Dirk Duvenhage (Richard van der Westhuizen). Kaptein Swys Steenkamp (Lochner de Kock) werk hard om misdaad te bekamp, maar daar loer kort-kort iemand oor sy skouer: die geselserige Sandra Serfontein (Ria Smit). Sy staan ook van tyd tot tyd in vir die dorp se koerantman wat haar seker maar rede gee om haar neus oral in te steek. Die dorp het ook ʼn nuwe bankbestuurder, Roger Smith (Duncan Johnson). Hy en die aantreklike klinieksuster, Riana Roelofse (Natasja Jacobs), se eerste ontmoeting het erge gevolge vir albei.

Dan is daar Ricky October (Johny Klein), eienaar van Rocky’s Funerals, wat hy by sy legendariese bokserpa, Rocky October, geërf het. Reeds met die storie se intrapslag sorg hy vir groot drama!

Die drama bestaan uit 120 episodes en kan reeds op verskeie gemeenskapsradiostasies gehoor word. Die  episodes kan ook op Maroela Media self aanlyn geluister kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marinda ·

Wonderlik, net wat ons nodig het. Dankie Bettie Kemp en span. Dankie MM dat ons via MM daarna kan luister.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.