Podlitiek: Die ANC se doodskiskoek en die 39%-slaagsyfer

Opgestel deur die Podlitiek-span

Foto: ANC Noord-Kaap/Twitter

Podlitiek is terug met die eerste episode vir 2020! Die span kyk in hierdie episode na die grootste nuus van die nuwe jaar – alles van die ANC se verjaardagkoek tot die groot verwikkelinge in die Midde-Ooste die afgelope twee weke.

Die ANC hou elke jaar sy bekende “8 Januarie-toespraak”, ʼn verjaardagtoespraak waartydens die feesviering met die beplanning vir die nuwe jaar aangebied word. Die besluit is geneem om in 2020 hierdie toespraak in Kimberley te hou, ʼn besluit wat die ANC moontlik ná dese effens berou.

Podlitiek bespreek met die tong aanvanklik in die kies, en dan sommer tussen die laggery deur hierdie narrespel van ʼn verjaardagviering, waar die koeke soos doodskiste ingedra is, en die skare kleiner was as dié van ʼn ordentlike skolerugbywedstryd.

In ʼn wending na meer belangrike sake kyk Podlitiek volgende na onderwys in Suid-Afrika. Met die veelbesproke rekord-slaagsyfer van 2019 spreek die paneel hulself daaroor uit dat hierdie syfers eintlik meer van ʼn bespotting as iets anders is. Die verskillende maniere waarop die regering sy mislukking in terme van sy opleidingstaak wegsteek word uitgewys, en die pad vorentoe word oorweeg.

ʼn Volgende storie waarby stilgestaan moet word, is die grondkwessie. Met pres. Cyril Ramaphosa se uitspraak dat die wysiging van artikel 25 teen die einde van die jaar afgehandel moet wees, wonder Podlitiek hardop waarheen nou. ʼn Kommerwekkende verwikkeling is dat die wetsvoorstel in praktyk ʼn ooreenkoms trek tussen buitelanders en wit Suid-Afrikaners, wat eintlik maar die regerende party se denkwyse bevestig, of ten minste, so glo party.

ʼn Vinnige blik word ook op die Midde-Ooste gegooi, met die verhouding tussen die VSA en Iran wat moontlik ʼn nuwe laagtepunt bereik het.

By Podlitiek lewer ons nie net die nuus nie, ons maak dit. Luister Podlitiek.

Die Podlitiek-span bestaan uit Hermann Pretorius (IRV), Ernst van Zyl (AfriForum), Paul Maritz (Solidariteit) en Daniël Eloff (Hurter Spies Ing.).

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Podsendings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

John ·

… onthou Hans die polisie dra gewere… en daar is net soveel koek… wie sou wen?

Arak ·

Ek verskil van die paneel oor die missiel aanval op die Irannees. Of hy sleg is of nie, is irrelevant, wat Amerika gedoen het is niks anders as laakbaar nie.
Eerstens het Amerika homself die reg toe geëien om ‘n sluipmoord te pleeg en is boonop trots daarop. Wat van die ander mense wat ook dood is weens die aanval, waar is die geregtigheid teenoor hulle families? Beteken dit nou dat as Amerika nie van iemand hou nie, hulle hulself die reg kan toe-eien om iemand net te vermoor; sommer regter, jurie en laksman.
Tweedens was die aanval gedoen op ‘n publieke lughawe, dit is so goed Amerika maak iemand dood met missiele op OR Tambo, terwyl daar ander vliegtuie vlieg en land. Hoe is dit aanvaarbaar?
Derdens was alle aanduidings dat Suleimani na Irak gelok is om ‘n valse vredesooreenkoms met Amerika te sluit. Dit is hoekom hy daarna gevlieg het in ‘n kommersiële vlug, en toe word hy vermoor.
Aanvanklik was die regverdiging dat hy besig was om terreur te beplan, maar dit het verander, nou dat daar geen bewyse is vir die sogenaamde terreur wat hy beplan het nie. Wat as ander lande hulself dieselfde reg toe-eien en sommer mense links en regs vermoor, want hulle is “slegte” mense.

Pietman ·

Watt gee Amerika die reg? maklik. Die Iranees het 600 Amerikaners doodgemaak en nog terreur beplan.

Daan ·

Ek weerhou my liewer van komentaar. Wie sê Trump neem dalk aanstoot?

ChrisE ·

Arak daar is ‘n spreekwoord wat lui, “all is fair in love and war”. Ek is ook partykeer verbaas oor die arrogansie wat die VSA aan die dag lê. Soos jy behoort te weet is die wêreld besoedel van mense met eiesoortige kulture, tradisies en gewoontes. Wat vir my as wit, westerling aanvaarbaar is, sal moontlik vir baie in die res van die wêreldbevolking aanstoot gee. Dan kom ons by die stille “meerderheid”. Persentasie gewys is die wat teen die sisteem is die grootste lawaai makers. Jy kan dit sien by bv die omgewingsfanatici en anti – kern mense. Nog geen land het ‘n terroriste oorlog gewen nie. Die Amerikaners het eerstehandse kennis daarvan. Iran is reeds die afgelope ongeveer veertig jaar besig om aan die VSA te karring. Of hulle deur die Russe of ander moonthede opgestook word, is nie ter sprake nie. Hulle het hul hand oorspeel. Die VSA het ‘n duidelike boodskap aan die kleiner lande wat aan terreur skuldig is uitgestuur. Die volgende landjie is Noord Korea wat in die bek geruk moet word. Ek praat nie eers van die regime waaronder ons onsself bevind nie. Ons is weer een van die muishond lande van die wêreld agv verwaandheidswaansin van die regeerders.

Noupraatjy ·

@Arak het die volste reg om te verskil met die paneel, maar hy het nie die reg op sy eie eie feite rondom die situasie op te maak nie. Genl. Solemannetjie was ‘n verklaarde terroris; “if you live by the bomb, you must also expect to die by the bomb”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.