Podlitiek: Mmusi se brief en mense wat oor rassisme lieg

Opgestel deur die Podlitiek-span

Mmusi Maimane (Foto: Mmusi Maimane/Facebook)

Podlitiek is Maroela Media-lesers se weeklikse politieke podsending, wat aangebied word deur vier jong panneellede wat graag politieke sake, soos hulle dit noem, ontnonsens. Vandeesweek is al vier lede van die Podlitiek-paneel getrou op hul pos in die virtuele ateljee, en bespreek hulle Mmusi Maimane, voormalige DA-leier, se brief aan wit Suid-Afrikaners, Solidariteit se oorwinning oor valse klagte van rassisme en die pad wat onteiening sonder vergoeding in Suid-Afrika nou stap.

Eerste aan die beurt is Maimane wat hom in die afgelope week die reg toegeëien het om met die ganse wit bevolking van Suid-Afrika te praat. In ʼn skuif wat ongetwyfeld as ʼn politieke een beskou moet word, vermaan die voormalige leier van die opposisie wit mense om meer te doen en harder te werk aan versoening en dies meer. Die Podlitiek-span ontleed hierdie kwessie ten diepste, en wonder waar presies Maimane op pad heen is met hierdie soort retoriek.

Die volgende storie op die Podlitiek-agenda is Solidariteit se onlangse oorwinning oor klagte van valse rassisme, met twee polisiebeamptes van Klerksdorp wat onlangs hul vonnis ontvang het nadat hulle ʼn kollega valslik daarvan beskuldig het dat sy hulle die k-woord toegesnou het. Die Podlitiek-paneel hoop dat dit ʼn waterskeidingsoomblik vir Suid-Afrika sal wees, waar die sogenaamde raskaart in meer beursies te vinde is as ʼn kredietkaart. Hopelik kan gesprekke oor ras toenemend normaliseer.

Laastens tree die boemerang-tema van grondonteiening sonder vergoeding weer na vore. Hierdie proses maak die Podlitiek-paneel gewoonlik warm onder die kraag, en vandeesweek is geen uitsondering nie.

Die komende verkiesing in die VSA kom ook vinnig onder die loep, met voorspellings wat gewaag word.

Podlitiek lewer nie die nuus nie, hulle maak dit.  Luister Podlitiek.

  • Die Podlitiek-span bestaan uit Hermann Pretorius (IRV), Ernst van Zyl (AfriForum), Paul Maritz (Solidariteit) en Daniël Eloff (Hurter Spies Ing.).

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Podsendings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Schalk ·

Versoening ?????? Bly maar eerder uit politiek want jy weet dit is net ‘n klugspul. Ek sal nooit alle politieke mense van leuns beskuldig nie maar ek gaan net noem dat daar min eerlike politikuste is!

Lian ·

Alles moet net van ons kant af kom ? Van wanneer af werk dit so ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.