Podlitiek: Weermag ontplooi, Zuma se getuienis en Mandeladag

Die SANW is in Manenberg ontplooi (Foto: Henk Kruger/Cape Argus via African News Agency/ANA)

Opgestel deur die Podlitiek-span

In die gees van Mandeladag het die Podlitiek-span 25 minute van hul 67 minute van gemeenskapsdiens toegewy om vir jou die afgelope week se jongste nuus te bring. In hierdie episode kyk Paul, Ernst en Daniël na die ontplooiing van die weermag in die Kaapse Vlakte, oudpresident Zuma se getuienis by die Zondo-kommissie en laastens word die nalatenskap van Nelson Mandela onder die vergrootglas geplaas.

Die episode skop af met ’n bespreking van die teenwoordigheid van die weermag in die Wes-Kaap. Die provinsiale regering in die Wes-Kaap se pleidooi vir die afgelope 15 jaar is dat die weermag ontplooi word om die buitensporige hoë misdaadvlakke met erns te pak. Die Podlitiek-span het sterk meningsverskille oor die beginsel van die weermag wat ontbied is om die polisie se werk te verrig. Wat egter duidelik is, is dat misdaadvlakke in hierdie gebied buitengewoon hoog is en dat dit spesiale aandag verg.

Die gesprek draai dan na oudpresident Jacob Zuma se getuienis by die Zondo-kommissie. Die kommissie is in Augustus 2018 deur president Cyril Ramaphosa gestig om bedrog en korrupsie in die openbare sektor en staatsorgane te ondersoek. Zuma se getuienis het talle kykers die josie in gemaak omdat alle korrupsieklagtes eenvoudig ontken of weggepraat word. Of daar egter gevolge gaan wees en of verantwoording vir staatskaping gedoen gaan word, is onseker, maar onwaarskynlik.

Laastens bespreek die span die nalatenskap van die voormalige staatshoof Nelson Mandela. Hierdie week word Mandeladag gevier en die span kyk uit ’n hedendaagse oogpunt na hoe Suid-Afrika se eerste demokratiese leier onthou word. Ernst van Zyl maak die punt dat moderne politieke dikwels lei na eensydige boekhou van die geskiedenis en dat Mandela se nalatenskap nie slegs goed of slegs sleg is nie.

Die episode sluit, oudergewoonte, met die blink-kant-bo-segment af waar die span die besonderse sportnaweek bespreek.

Is jy moeg daarvoor om nie te kan saampraat om die braaivleisvuur nie? Podlitiek is die antwoord vir jou!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

leser ·

wat help dit as die weermag troepe daar patrollies gaan doen, hulle gaan in spervuur beland, hulle kan nie, mag nie, skiet nie, hulle het nie eers lewendige ammunisie nie en geen persoonlike heskerming klere (bullet proof vests) of soortgelyks nie
een ma se bohaai gaan opgeskop word as een van die weermag lede gaan sneuwel, hulle gaan daarna onmiddelik ontrek word, wat dan ?

aj ·

Kaap – kaping?

Die ANC GRYP die Kaap onder die voorwendsel van misdaad bestryding?

Met behulp van ‘n Trojaanse perd … die ‘people’ wat (kamstig) vra vir die ontplooiing van die Wermag?

Die DA gaan NOOIT WEER die “verkiesing” in die Kaap wen nie?

Met die ANC kaders ontplooi in die woonbuurte?

LR ·

Ek weet nie hoe dit deesdae in die weermag gaan nie. In my dae het ons basiese opleiding ontvang en daarna het hulle nie mooi geweet wat om met ons te maak nie. Dit was eintlik n groot vermorsing van geld.
Ek dink dis n goeie ding om hulle te ontplooi. Die soldate moet in elkgeval n salaris betaal word, kos gegee word, behuising gegee word, geklee word ens (wat die belastingbetaler in elk geval betaal) en dan is hulle vir die grootste deel van die jaar onproduktief. Dus sal ek sê pas hulle opleiding n bietjie aan sodat hulle saam met die polisie die land kan beveilig, ons is in elke geval gewikkel in n soort van n oorlog met die afmetings wat misdaat en veral moord en doodslag deesdae plaasvind. Bo en behalwe korupsie is dit seker die mees destabiliserende ding in SA.
Die weermag het die mannekrag in infrastruktuur veral in terme van voertuie en wapens om te help om hiedie land n baie veiliger plek te maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.