Podlitiek: Zille verlaat Twitter en FW laat verskeie bitter

Helen Zille (Foto: Tracey Adams/African News Agency/ANA)

Opgestel deur die Podlitiek-span

In hierdie week se episode bespreek die Podlitiek-span Helen Zille se besluit om haar van die sosiale mediaplatform Twitter te onttrek asook hoe ons na ons land se geskiedenis moet kyk na aanleiding van die afgelope week se debat oor die opmerkings deur FW de Klerk.

Sosiale media is ongelukkig soms die vergaderplek van spotters, soos wat Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad, hierdie week geleer het. Nadat sy ’n foto van haar kleindogter op sosiale media geplaas het, is Zille en haar kleindogter die allerverskriklikste dinge toegesnou. Podlitiek verneem met spyt dat Zille haar Twitter-rekening gedeaktiveer het ná afloop van hierdie voorval. Hoe behoort ons om te gaan met kru rassisme en haat wat deur naamloses versprei word?  Podlitiek dink ’n bietjie daaroor.

Gereelde luisteraars van Podlitiek sal weet dat die paneel oorhoofs saamstem oor baie sake, maar een kwessie wat in die verlede al effense onmin tussen die vier ruiters van die radiogolwe gesaai het, was die manier hoe daar met apartheid omgegaan moet word – veral wanneer dit kom by die gedagte dat dit ’n misdaad teen die mensdom is. Met oudpresident FW de Klerk se onlangse uitsprake en onttrekking van hierdie uitsprake, kom hierdie tema weer aan die beurt. Podlitiek trap tussen die landmyne deur en bied ’n gebalanseerde, dog genuanseerde stel menings hieroor.

Laastens word Tito Mboweni, minister van Finansies, se onlangse twiets oor die Suid-Afrikaanse ekonomie onder die loep geneem. Mboweni sien dinge duidelik gans anders as meeste lede van die regerende party en het, onder meer, gestel dat demokratiese sentralisme misluk het. Podlitiek bespreek verskillende boodskappe wat uit ANC-geledere na vore kom, asook wat die minister se uitsprake vir die land beteken.

By Podlitiek lewer ons nie net die nuus nie, ons maak dit. Luister Podlitiek.

  • Die Podlitiek-span bestaan uit Hermann Pretorius (IRV), Ernst van Zyl (AfriForum), Paul Maritz (Solidariteit) en Daniël Eloff (Hurter Spies Ing.).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johan Venter ·

En Cyril Ramaphosa het vandag gesê om apartheid se impak op elke lewende Suid-Afrikaner te ontken grens aan hoogverraad. Wat sê julle dáárvan?

Maar dan is daar mense wat van FW De Klerk na die 1992 referendum, en ook in hierdie dae, gesê het hy het die land verraai.

Johan Venter ·

Ek sien een webwerf het Cyril Ramaphosa aangehaal as synde hy gesê het dit IS hoogverraad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.