ToekomsVenster: Kyk soos God kyk

Foto: Karsten Würth/Unsplash

Lees 1 Samuel 16

Ek het die verhaal van Samuel se opdrag om een van die seuns van Isai as koning te gaan salf die afgelope tyd in verskeie forums met genoegdoening gedeel. In ʼn wêreld waar ons waarde deur wat ons het, wat ons ry en waar ons bly bepaal word, is die verhaal soos ʼn lentebries. God kyk anders as mense met hul opgesmukte idees van wat belangrik is.

Ek is meermale in die kategorie van mense wat my deur die sigbare laat beïnvloed en het nodig om gereeld herinner te word aan God se werkswyse. Immers, as Hy soos die wêreld gemaak het sou ek nie in sy vriendekring ingesluit geword het nie. Juis omdat Hy dieper as die oënskynlike en sigbare kyk is daar ook vir my plek in sy huishouding.

Isai het al sy seuns bymekaar. Dis ʼn trotse oomblik. Een van sy seuns eersdaags die koning van Israel. Kyk hoe breë bors staan hy daar. Hy het sy seuns ook reeds in volgorde van waarskynlike keuse georden. Daar is by hom geen twyfel dat seun nommer 1 die aangewese kandidaat vir die hoë posbeskrywing is nie. Immers, sy hoedanighede is indrukwekkend en hy geniet die aansien van mense.

Nie dat enige van daardie dinge insigself verkeerd is nie, inteendeel. Dit kwalifiseer ons egter nie noodwendig by God nie.

Al die seuns het ʼn beurt gehad maar nie een kwalifiseer nie. Wat nou gemaak? Daar kan geen twyfel wees nie, Samuel het verkeerd gehoor. Dit móét een van hulle wees. Dalk die proses herhaal? “Is daar nog ʼn seun,” kom die vraag.

“Ja”, antwoord Isai, “so onaansienlike enetjie”. Trouens, so gewoon dat hy nie eers na die prestige geleentheid genooi is nie. Die geskiedenis is bekend. Terwyl die ander manne in die gym was het Dawid Psalms gedig. Terwyl die ander voor die spieël gestaan het het Dawid die leeu en die beer aangedurf. Terwyl die ander hul vir belangrike dinge voorberei het het Dawid skape opgepas.

Die beste kwalifikasies is die wat Dawid het: ‘n nederige afhanklikheid en ʼn hart wat warm klop vir God.

Ons kan onsself jammer kry en verontskuldig. Ons is nie voorblad mense nie, ons kom nie na vore as ʼn “Google search” gedoen word nie, ons is nie op “LinkedIn” nie en het geen noemenswaardige profiel nie.

Kan God ons gebruik? Ai, die heerlike waarheid. Neem jou plek in die ry in. God het ʼn mooi pad vir jou.

ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johan ·

Dankie Here dat U in ons lewens is. Dankie vir al U genade Here en vir al U seëninge. Amen!

Von ·

Here Jesus U het wat stukkend is kom regmaak vir ons die Pad kom stap…dankie vir genade en dat U ons liefhet

Liza ·

Wow, mens vergeet dikwels dat elke mens op aarde ‘n doel het, ons is almal belangrik in God se oe…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.