Alcaraz vee vloer met SA se Harris

Suid-Afrika se Lloyd Harris het teen die verdedigende Amerikaanse Ope-kampioen Carlos Alcaraz verloor. (Foto: Corey Sipkin/AFP)

Die verdedigende Amerikaanse Ope-kampioen Carlos Alcaraz het vroeg Vrydagoggend (SA tyd) die vloer met Suid-Afrika se Lloyd Harris gevee.

Alcaraz het in New York in twee uur en 28 minute met 6-3, 6-1 en 7-6 met Harris klaargespeel.

Die jongste oorwinning beteken dat Alcaraz net twee oorwinnings weg is van ʼn moontlike herontmoeting met die Italianer Jannik Sinner in die kwarteindronde van die Amerikaanse Ope.

Sinner het reeds sy landgenoot Lorenzo Sonego met 6-4, 6-2 en 6-4 verslaan.

Verlede jaar het Alcaraz en Sinner dit in vyf stelle in die kwarteindronde uitgespook; dit is aangeteken as die wedstryd wat die laatste in die Amerikaanse Ope se geskiedenis geëindig het.

Ná albei tennisspelers se jongste vertonings sou min egter op ʼn herhaling van verlede jaar se kwarteindronde in vanjaar se kwarteindronde wed.

“Ek dink ek het van begin tot einde ʼn puik wedstryd gespeel,” het Alcaraz ná sy wedstryd teen Harris gesê.

Carlos Alcaraz by vanjaar se Amerikaanse Ope. (Foto: Corey Sipkin/AFP)

Die 22-jarige Sinner lyk intussen of hy behoorlik op alle suiers vuur as ʼn mens na sy vertoning in die tweede ronde kyk. Die Italianer het net 10 punte in sy wedstryd teen Sonego afgestaan ​​en nie eens sy landgenoot kans op ʼn enkele breekpunt gegee in die wedstryd van twee uur en vyf minute nie.

Sinner sal Saterdag in die derde ronde teen 2016 se Amerikaanse Ope-kampioen Stan Wawrinka te staan kom. Die 38-jarige Wawrinka het vroeër gewys dat hy steeds kan, toe hy die Argentyn Tomas Martin Etcheverry met 7-6 (8/6), 6-7 (7/9), 6-3 en 6-2 geklop het.

Duitsland se 12de gekeurde Alexander Zverev staan dalk ook in Sinner se pad voor ʼn ontmoeting met Alcaraz in die kwarteindronde. Zverev het sy plek in die derde ronde bespreek nadat hy sy landgenoot Daniel Altmaier met 7-6 (7/1), 3-6, 6-4 en 6-3 uitgeskakel het.

Ook in Alcaraz se pad is die 2021-kampioen Daniil Medvedev, wat die derde ronde gehaal het deur die 69ste gekeurde Christopher O’Connell van Australië met 6-2, 6-2, 6-7 (6/8) en 6-2 uit te skakel.

Dit het gelyk of Medvedev op pad was na ʼn gemaklike oorwinning voor ʼn ommeswaai deur O’Connell, wat die wedstryd na ʼn vierde stel gedwing het.

“ʼn Moeilike wedstryd,” het Medvedev gesê.

“Ek weet nie hoekom nie, maar hy het skielik baie beter begin speel. Ek weet nie wat die rede was nie, maar dit het vir my baie moeiliker geword.”

Medvedev sal Saterdag teen Argentinië se Sebastian Baez vir ʼn plek in die laaste ronde van 16 te staan ​​kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.