Alpse uitdaging? Dis (piek)fyn, sê bobaas ultra-atleet

Armand du Plessis (Foto verskaf)

Vir baie is die hoogtepunt van hul drafloopbaan die pretdraf wat die plaaslike laerskool aanbied om geld vir hul o.13-rugbytoer in te samel. Maar vir Armand du Plessis is ’n lekker drafuitdaging die 160 km van die Ultra Fiord-wedloop in Chileense Patagonië, of ’n marathon-sessie deur die Italiaanse Alpe.

En waar ander dalk verby die biblioteek of ’n kettingwinkel in die hoofstraat hardloop; trotseer hy berge, dale, kranse en riviere wat waarskynlik nie net jou asem figuurlik sal wegslaan wanneer jy die ongelooflike tonele op ’n foto bestudeer nie, maar ook letterlik jou asemhaling sal bemoeilik as jy self dié hindernisse moet oorbrug.

“Die natuurskoon is juis waarom ons atlete ver afstande in die berge gaan hardloop,” laat weet die man wat al ’n derde plek by die uitdagende Ultra Fiord-wedloop losgehardloop het.

“Ek is bevoorreg om van die mooiste sonsopkomste en -ondergange ter wêreld op buitengewone plekke te sien. Van die Alpe tot Antarktika, op eilande met snaakse diere en die San Juan-bergreeks in die VSA.”

Maar in die berge is nie alles maanskyn en rose nie; ’n feit waarvan Du Plessis maar net te bewus is.

Hy het al vantevore moeilike wedlope aangepak. Daar was die 170 km van die Ultratrail Mont Blanc in Frankryk, en die keer toe een van die deelnemers op die roete gesterf het tydens die Ultra Fiord-ekspedisie. Maar die taaiste was ongetwyfeld die Tor des Geants – ’n wedloop van 330 km deur die Italiaanse Alpe. En om ’n lang storie kort te maak: Dit is twee keer verder as wat hy nog ooit vooraf gehardloop het.

“Dit is egter nie net die afstand nie, maar ook die afsondering. Jy swoeg vir ure alleen deur tegniese gedeeltes, met bykans geen slaap nie. Ek het nogal snaakse dinge begin sien ná 60 ure sonder enige slaap. Daar was onder meer ’n kabouter wat my net nie wou verbylaat nie op ’n sekere stukkie van die roete. Ná ’n lang onderhandelingsproses het ek besef dit is eintlik net ’n rots.”

Volgens Du Plessis het dit hom ook ’n hele paar dae ná die tyd geneem om weer normale gesprekke met ander te voer.

“As jy soveel tyd in jou eie kop onder geweldige druk en in moeilike omstandighede spandeer, neem dit ’n paar dae om alles te verwerk en weer normaal te funksioneer.”

Armand du Plessis (Foto verskaf)

’n Paar vrae later en Du Plessis begin oor die “donker tydperk” te gesels; iets wat gereeld gedurende wedlope kan gebeur en waarop geen vooraf-oefening jou eintlik kan voorberei nie. Tog, soos met enigiets, is daar altyd ’n lig aan die einde van ’n tonnel.

“Met die eerste 100 myl-wedloop wat ek aangepak het, het ek ’n donker plek bereik wat ek gedink het nooit sal eindig nie. Ek onthou hoe ek vir elke 100 m wat ek voltooi het op die grond gaan lê en tot 60 getel het. Daarna het ek opgestaan, dalk opgegooi en verder beweeg.”

“Daarna leer mens dat dié tydperk altyd, ná 20 minute of selfs ’n uur, weer verbygaan. Dieselfde konsep geld ook vir die lewe – die donkerste en koudste oomblikke is normaalweg net voordat die son opkom. Nou weet ek dat as jy daardeur kom, daar ’n euforie op jou wag wat ligjare van die donker verwyder is.”

Gedurende die afsonderingstydperk het Du Plessis in sy eie Kaapse agterplaas sommer die Ultra Drakensberg-wedloop aangepak. In die proses het hy 100 km kafgedraf en 7 773 m geklim – ’n statistiek wat die uitstappie deksels moeilik gemaak het.

Maar wat lê ná die staat van inperking vir hom voor?

“Ek wil graag weer die Drakensberg Grand Traverse aanpak, terwyl die Tor des Glaciers (450 km) ook op my lysie is.”

Sukkel hy dalk met hoogtevrees?

“Nee, maar moet bieg, hoogtes maak my nogal ongemaklik. Dalk het ek hoogtevrees. Maar ek dink dit is goed om jouself soms in ongemaklike posisies te plaas.”

En Armand du Plessis wys gereeld vir daardie einste taai situasies wie is baas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.