Binder tel teëspoed op, wen nietemin Nuweling-kroon

Brad Binder. Foto: Instagram

Daar was ʼn gejuig, maar ook ʼn gekners van tande in die huishouding van die Binder-gesin van Krugersdorp.

Nadat die jongste spruit, Darryn, Sondagmiddag in Algarve sesde in die Moto3-ren van die Portugese Grand Prix geëindig het, het die kollig na ouboet Brad in MotoGP geskuif.

Binder het 13de weggespring en die titel Nuweling van die jaar was so te sê reeds in die sakkie.

Maar toe tel hy teëspoed in die tweede ronde op (meganiese probleme) en die sakkie was nog nie toegeknoop nie.

Die asems is opgehou: As Alex Marquez (Honda) die wedren sou wen, was Binder se drome op die ashoop want sy voorsprong van 20 punte was in die laaste ren in die weegskaal.

Maar dit het nie gebeur nie want Marquez (74 punte) het slegs negende geëindig om aan Binder (87 punte) die gesogte kroon te besorg.

Die Grand Prix is deur die Portugese jaer Migael Oliveira (KTM) gewen, met Jack Miller (Ducati) tweede en Franco Morbidelli (Yamada) derde.

Joan Mir (171) is reeds verlede Sondag as wêreldkampioen gekroon met Morbidelli (158) tweede en Alex Rins (139) derde.

Binder het 11de geëindig in die wêreldkampioenskap en Marquez 14de.

Om Binder se seisoen op te som: Hy het in sy debuutjaer in MotoGP die Tsjeggiese Grand Prix teen alle verwagting gewen, drie keer in die top-vyf en nog twee keer in die top-tien geëindig.

Dit was ʼn droomseioen vir ʼn groentjiejaer. Ondanks ʼn paar stampe en stote het die motorfietswêreld nou kennis van die boykie van Krugersdorp geneem.

* Die Moto3-ren is deur Raul Fernandez (KTM) gewen, met Dennis Foggia (Honda) tweede en Jeremy Alcoba (Honda) derde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Boerkind ·

Mooi so! Ons is trots op die jongman!! Aanstaande jaar kan dit net nog beter gaan!!

Simon ·

Baie geluk, ons sien jou volgende jaar met net nog meer sukses!

Jakez ·

“Om Binder se seisoen op te som: Hy het in sy debuutjaer in MotoGP die Tsjeggiese Grand Prix teen alle verwagting gewen, drie keer in die top-vyf en nog twee keer in die top-tien geëindig.”

Dit moet wees “debuutjaar”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.