Dis Red Bull se dag in Spanje

Red Bull se Max Verstappen (middel), Red Bull se Sergio Perez (links) en Mercedes se George Russell op die podium ná die Spaanse Formula Een Grand Prix (Foto: LLUIS GENE / AFP)

Charles Leclerc in sy Ferrari het dalk voor weggespring in die Spaanse Grand Prix, maar die dag het aan Red Bull behoort en daar was goeie nuus vir Mercedes.

Max Verstappen het die wedren gewen en loop nou voor in die bestuurderskampioenskap. Sy spanmaat Sergio Perez was tweede. Dit is Verstappen se derde agtereenvolgende oorwinning en die 24ste van sy loopbaan.

Daar was duidelike tekens dat Mercedes weer sy stem dik gaan maak nadat George Russel derde geëindig het.

Carlos Sainz se vierde plek was Ferrari se troosprys.

Selfs Lewis Hamilton was optimisties oor sy Mercedes. Hy was vroeg in die wedren terug in die kuipe met ʼn pap band, maar het sy pad deur die motors gevleg om vyfde te eindig.

Leclerc was los voor tot in die 23ste ronde toe sy motor skielik krag verloor het. Hy is nou ses punte agter Verstappen in die kampioenskap. Hy sal hoop Ferrari sorteer sy enjinprobleme uit voor sy tuiswedren volgende Sondag in Monaco.

Verstappen het dit ook nie maklik gehad nie. ʼn Rukwind het sy motor van die baan gewaai en hy het ook tegniese probleme gehad. Perez het in ʼn stadium voor gejaag, maar sy span het hom opdrag gegee om die huidige wêreldkampioen verby te laat gaan.

Meer as 120 000 toeskouers het die wedren bygewoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Snowball ·

Voel jammer vir Perez. Hy het ‘n wen verdien. Strategies seker geregverdig, maar dit was ongetwyfeld Perez se dag.

Andre ·

Wel gedaan Max maar om eerlik te wees Perez moes gewen het.Hamilton se dae is getel Russel sit hom keer op keer ore aan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.