Djokovic/Kyrgios-vertoonstryd binne uur uitverkoop

Nick Kyrgios. Foto: Corey Sipkin/AFP.

‘Vat só kritici,’ was Nick Kyrgios se indirekte boodskap nadat kaartjies vir sy vertoonwedstryd teen Novak Djokovic in slegs 58 minute uitverkoop is.

Die liefdadigheidskragmeting word Vrydag op die Rod Laver-baan in Melbourne beslis.

“Jitte, maar Nick Kyrgios is darem sleg vir die sport. Wat ʼn skandemaker, ʼn nasionale verleentheid,” het die 27-jarige speler op Twitter geskerts kort nadat die nuus van die blitsige verkope gebreek het.

Kyrgios en Djokovic het al drie keer teen mekaar gespeel met die vurige Aussie wat twee van die wedstryde gewen het. Die Serwiër het egter die bordjies in verlede jaar se Wimbledon-eindstryd verhang toe hy die silwerware ná vier stelle omhoog gehou het.

ʼn Dokumentêre tennisreeks, Break Point, word ook Vrydag op Netflix uitgereik en kyk na verskeie buiteperde in die tenniswêreld. Kyrgios erken daarin dat sy lewe in ʼn stadium buite beheer was.

“Ek het omtrent elke aand gedrink en vir so vyf jaar was alles eintlik net chaos. Deesdae speel ek egter nie meer met soveel verwagting nie; ek het ʼn punt daarvan gemaak om wedstryde te geniet en om minder druk op myself te plaas.”

Tog kan toeskouers meer drama as in ʼn episode van Rustelose Jare verwag wanneer hy op die baan stap.

Bekgevegte – met teenstanders, wedstrydbeamptes en selfs toeskouers – is niks nuuts in Kyrgios se wedstryde nie en hy erken dat hy soms dinge té ver vat.

“Wanneer dinge warm op die baan raak, is ek skielik ʼn ander mens. Ek is passievol oor die spel en ek sukkel gereeld om my emosies te beheer.”

Novak Djokovic in aksie in Adelaide. Foto: Brenton Edwards/AFP.

Intussen het organiseerders van die Australiese Ope gesê dat luidrugtige toeskouers uitgeskop kan word indien hulle nie vir Djokovic, of enige ander speler, met die nodige respek hanteer nie. Die Ope begin in alle erns op 16 Januarie.

Die 35-jarige Serwiër se inentingstatus het in 2022 gesorg dat hy toegang tot die eerste Grand Slam-toernooi van die jaar geweier is en organiseerders is onseker oor hoe hy nou in Melbourne verwelkom sal word.

“As hulle [die toeskouers) enigiemand ontwrig, sal hulle uitgeskop word. Hulle kan óf wegbly óf hulle sal gevra word om te loop,” het Craig Tiley (toernooidirekteur) gesê.

Hy het egter bygevoeg dat Melbourne-inwoners normaalweg ʼn waardering vir goeie vertonings op die sportveld of -baan het.

Die Aussie-publiek was egter vierkant agter Djokovic toe hy verlede naweek die Adelaide International 1-toernooi gewen het en hy het hulle vir hul ondersteuning bedank.

“Dit was ʼn ongelooflike week en julle het dit net soveel meer spesiaal gemaak. Hierdie ondersteuning is iets wat ek nog nie dikwels in my loopbaan ervaar het nie en ek wil vir almal dankie sê wat na die wedstryde kom kyk het,” het die voormalige wêreldnommereenspeler gesê.

Uitslae van die wedstryde tussen Nick Kyrgios en Novak Djokovic:

  • Kwarteindstryd van die Acapulco-toernooi in 2017: 7-6 en 7-5 in Kyrgios se guns
  • Ronde van 16 in die Indian Wells-toernooi in 2017: 6-4 en 7-6 in Kyrgios se guns
  • Wimbledon-eindstryd in 2022: 4-6, 6-3, 6-4 en 7-6 in Djokovic se guns.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.