Drie wêreldtitels op ʼn streep vir blitsige Max

Max Verstappen is vir die derde keer in sy loopbaan die F1-wêreldkampioen. (Foto: Darko Bandic/AFP)

Max Verstappen het weliswaar tweede agter Oscar Piastri in die snelren van die Katar Grand Prix klaargemaak, maar dit was meer as genoeg om sy derde wêreldtitel op ʼn streep te verseker.

Die 26-jarige Nederlander hou al vir ʼn geruime tyd die ander renjaers in die truspieëltjie van sy Red Bull-vuurwa dop en hy geniet ʼn voorsprong van 184 punte bó sy naaste teenstander op die amptelike jaerspunteleer.

Volgens die slim manne met die sakrekenaars is dit nou onmoontlik vir enigeen van sy teenstanders om hom in te haal.

Verstappen het vir die eerste keer in 2021 met die wêreldkampioenskap-louere weggejaag, waarna hy in 2022 sy status as ʼn kranige bestuurder onderstreep het.

Vanjaar se vertoning is egter die kersie op ʼn baie indrukwekkende F1-koek.

“Dié titel is ongetwyfeld my gunsteling. Die eerste titel was ʼn emosionele storie, want toe is my groot droom bewaarheid, maar ek is die meeste trots op my 2023-seisoen omdat dit so ʼn bestendige jaar is,” het Verstappen gesê.

Hy het vanjaar reeds in 13 van die 16 wedrenne die septer geswaai en die wêreldtitel is reeds in die sakkie terwyl daar nog ses wedrenne op die Grand Prix-kalender wag.

“Die vertonings het my wildste drome oortref en ek het nooit gedink dat ek tot só iets in staat is nie. Dit is terselfdertyd ongelooflik dat ons hele span al hierdie dinge saam kan beleef; ek is inderdaad baie trots.”

Volgens Christian Horner tel Verstappen beslis onder die sport se groot name.

“Dit is verreweg ons beste seisoen en ek dink ʼn mens kan nou in dieselfde asem van Max as van Jack Brabham, Ayrton Senna, Niki Lauda en sir Jackie Stewart praat. Alles wat hy vanjaar agter die stuur van sy renmotor gedoen het, was eenvoudig fenomenaal,” het die Red Bull-spanbaas gesê.

Jaerspunteleer:

  1. Max Verstappen: 407 punte
  2. Sergio Perez: 223 punte
  3. Lewis Hamilton: 194 punte
  4. Fernando Alonso: 175 punte
  5. Carlos Sainz: 153 punte
  6. Charles Leclerc: 135 punte
  7. Lando Norris: 121 punte
  8. George Russell: 120 punte
  9. Oscar Piastri: 65 punte
  10. Lance Stroll: 47 punte.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.