Formule Een: Geen keer aan Hamilton en Mercedes

Lewis Hamilton. Foto: AP Photo/Andre Penner

Die Formule Een Grand Prix van Abu Dhabi (die laaste wedren van die jaar) is Sondag gejaag. Dié wedren oor 305.355 km is op die Yas Marina-baan in Abu Dhabi afgehandel. Lewis Hamilton (Mercedes), wat reeds as die wêreldkampioen gekroon is, het voor weggespring en die wedren gemaklik gewen. Sebastian Vettel (Ferrari) was tweede en Max Verstappen (Red Bull) derde. Daniel Ricciardo (Red Bull) het vierde geëindig en Valtteri Bottas (Mercedes) vyfde.

Tydens Saterdag se kwalifisering het Mercedes oorheers en die eerste twee plekke op die wegspringrooster ingeneem.

1 Lewis Hamilton (Mercedes) 01:34.794

2 Valtteri Bottas (Mercedes) 01:34.956

3 Sebastian Vettel (Ferrari) 01:35.125

4 Kimi Räikkönen (Ferrari) 01:35.365

5 Daniel Ricciardo (Red Bull) 01:35.401

6 Max Verstappen (Red Bull) 01:35.589

Met die wegtrek het al die motors veilig deur die eerste agt draaie gejaag totdat Nico Hulkenberg in draai nege gerol het en die veiligheidsmotor ontplooi moes word. Die wedren is aan die einde van ronde vier hervat.

In die sewende ronde het die Ferrari van Kimi Räikkönen in die pylvak gaan staan en die veiligheidsmotor is weer ontplooi. Dit was Räikkönen se laaste wedren vir Ferrari. Die voorloper, Lewis Hamilton, was een van die renjaers wat dié geleentheid gebruik het om bande te gaan ruil.

tien rondes uit 55 was Valtteri Bottas (Mercedes) die voorloper met Sebastian Vettel (Ferrari) tweede en Daniel Ricciardo (Red Bull) derde. Max Verstappen (Red Bull) en Hamilton (Mercedes) was vierde en vyfde.

Tydens ronde 24 het reën begin val en Daniel Ricciardo (Red Bull) was die voorloper juis omdat hy nog nie in die kuipe was nie. Hamilton was tweede en Bottas derde.

Met 20 rondes oor het Sebastian Vettel (Ferrari) by Valtteri Bottas (Mercedes) verbygeskuif om die tweede plek in te neem agter Lewis Hamilton (Mercedes). Die twee Red Bull-motors van Max Verstappen en Daniel Ricciardo het ook by Bottas verbygeskuif om derde en vierde te wees.

Lewis Hamilton (Mercedes) het eerste oor die eindstreep gejaag met Sebastian Vettel (Ferrari) tweede en Max Verstappen (Red Bull) derde.

Op die punteleer het Hamilton die seisoen 88 punte voor Vettel afgesluit.

1 Lewis Hamilton (Mercedes) 408 (nuwe rekordtal punte in ʼn seisoen)

2 Sebastian Vettel (Ferrari) 320

3 Kimi Räikkönen (Ferrari) 251

4 Max Verstappen (Red Bull) 249

5 Valtteri Bottas (Mercedes) 247

Nog inligting is beskikbaar by: https://www.formula1.com/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.