Haas-baas kla oor Mick

Mick Schumacher. Foto: Twitter.

Vir Mick Schumacher is sy beroemde van nie ʼn las nie. Die 23-jarige seun van die legendariese Ferrari-renjaer, Michael, het al in vorige onderhoude gesê dat sy pa se gewildheid nie ʼn stok in sy wiel is nie: Hy skuif weekliks agter die stuur van sy renmotor in omdat hy mal is oor die sport.

Tog bestaan sy jong F1-loopbaan nie net uit maanskyn en rose nie.

Hy is tans 16de op die jaerspunteleer met 12 punte ná 18 wedrenne, terwyl hy al ʼn paar keer vanjaar die aftog weens ʼn botsing moes blaas.

Nodeloos om te sê kos ongelukke geld en F1-spanne hou niks daarvan om onnodig geld uit te gee nie.

“Enige fout – maak nie saak of dit ʼn strategiese blaps of iets anders is nie – kan ʼn span miljoene dollars uit die sak jaag,” het Gene Haas (spaneienaar) gesê.

“Ek dink Mick beskik oor baie potensiaal, maar hy kos ons ʼn fortuin. Hy het al ʼn paar renmotors afgeskryf en ons moet geld uithaal wat ons nie het nie.  Nou as jou naam Max Verstappen is en jy verdien gereeld punte vir jou span, kan ons nog ʼn ongeluk of twee hanteer. Maar as jy agter in die ry staan en motors afskryf, dan begin dinge moeilik raak.”

Hy het egter erken dat die jong Duitser se Haas-uurglas nog nie heeltemal leeggeloop het nie.

“Ons verwag van Mick om punte vir die span in te bring en ons probeer om vir hom soveel moontlik tyd te gee om te sien wat hy kan doen.”

Tog meen Kevin Magnussen dat sy spanmaat sy plek by Haas verdien.

 Foto: Twitter.

“Mick is deesdae ʼn taai kalant en ek sukkel eintlik om by hom kers vas te hou. As ʼn mens na die manier kyk waarop hy tans bestuur, glo ek dat hy ongetwyfeld sy plek op die wegspringrooster verdien. Ongelukkig is sulke dinge buite my beheer en al wat ek kan doen, is om vir hom sterkte toe te wens,” het die Deense renjaer gesê.

Schumacher geniet ook die ondersteuning van Sebastian Vettel; die viermalige wêreldkampioen het juis verlede jaar gesê dat hy ʼn rolmodel vir die jong renjaer wil wees.

“Dit is alombekend dat Haas die swakste renmotor is. Ek haal my hoed vir Mick af omdat hy kalm en gemotiveerd in só ʼn moeilike situasie bly. Ons praat gereeld met mekaar en ek glo dat hy ʼn positiewe invloed op die span het.”

Jaerspunteleer:

  1. Max Verstappen (Red Bull) 366 punte
  2. Sergio Perez (Red Bull) 253 punte
  3. Charles Leclerc (Ferrari ) 252 punte
  4. George Russell (Mercedes) 207 punte
  5. Carlos Sainz (Ferrari) 202 punte
  6. Lewis Hamilton (Mercedes) 180 punte
  7. Lando Norris (McLaren) 101 punte
  8. Esteban Ocon (Alpine) 78 punte
  9. Fernando Alonso (Alpine) 65 punte
  10. Valtteri Bottas (Alfa Romeo) 46 punte
  11. Sebastian Vettel (Aston Martin) 32 punte
  12. Daniel Ricciardo (McLaren) 29 punte
  13. Pierre Gasly (AlphaTauri) 23 punte
  14. Kevin Magnussen (Haas) 22 punte
  15. Lance Stroll (Aston Martin) 13 punte
  16. Mick Schumacher (Haas) 12 punte
  17. Yuki Tsunoda (Alphatauri) 11 punte
  18. Zhou Guanyu (Alfa Romeo) 6 punte
  19. Alex Albon (Williams) 4 punte
  20. Nicholas Latifi (Williams) 2 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Koos 100 ·

Sjoe Gene. Jy wil alles hê, punte en heel karre, wel dan moet jy nie nuwelinge aanstel nie, en beter karre ontwerp. Hulle moet leer en foute maak. As jy nie daarvan hou nie kan jy altyd vir Lewis en Alonso as bestuurders aanstel. Hulle het baie ondervinding maar ek is jammer om vir jou te sê dat jou hele begroting aan hulle salarisse sal gaan.

Alta Alleman ·

Bou beter veilige karre dan sal daar nie so baie ongelukkige wees nie. Dis n einste Haas wat amper die lewe gekos het van n renjaer verlede jaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.