Jonges kan Novak, Rafael opdraande gee

Novak Djokovic en Daniil Medvedev. Foto: Matthew Stockman/Getty Images/AFP Photo.

Die kollig sal helder op die twee tennislegendes Novak Djokovic van Serwië en Rafael Nadal van Spanje skyn wanneer die ATP-jaareindtoernooi Sondag in Turyn in Italië begin. Moet egter nie verbaas wees as hulle deur tennis se jongelinge van die troon gestamp word nie.

Die 35-jarige Djokovic sê ʼn oorwinning sal die kersie op die koek wees, want dan sal hy onder meer Roger Federer (wat vroeër vanjaar uitgetree het) se rekordgetal van ses ATP-eindstrydtitels ewenaar.

Djokovic spog vanjaar met 37 oorwinnings, maar hy is ook sewe keer geklop – die laaste keer in verlede week se eindstryd van die Paryse meesterstoernooi deur Holger Rune.

Nadal, wat vanjaar met 38 oorwinnings spog, maar ses keer slae gekry het, het die Australiese Ope in Melbourne en die Franse Ope in Parys (ʼn 14de keer) gewen. Hy is egter verlede week in die eerste ronde van die Paryse meesterstoernooi deur die onbesonge Tommy Paul ontspoor.

Hulle sal egter lugtig moet wees vir jonges soos Stefanos Tsitsipas, Casper Ruud en Felix Auger-Aliassime, asook die twee Russe Daniil Medvedev en Andrey Rublev.

Elkeen van die wêreld se topagt-manspelers sal in die rondomtalie-afdeling minstens drie wedstryde speel. Carlos Alcaraz van Spanje het hom weens ʼn maagspierbesering onttrek en is deur die Amerikaner Taylor Fritz vervang.

Djokovic begin sy aanslag teen Tsitsipas, terwyl Nadal, wat nog nooit die jaareindtoernooi kon wen nie, teen Taylor Fritz te staan kom.

Nadal sê dat hy op 36-jarige ouderdom nie enige aansporing nodig het nie.

As Nadal al drie sy rondomtalie-wedstryde wen en die eindstryd haal, kan hy die jaar weer as die wêreld se nommereen-speler afsluit.

Die agt spelers wat om die enkelspeltitel meeding, is in twee groepe ingedeel. In die Groen-afdeling speel Nadal, Ruud (Denemarke), Auger-Aliassime (Kanada) en Fritz (Amerika). Djokovic, Tsitsipas, Medvedev en Rublev (albei Rusland) ding in die Rooi-afdeling mee.

Daar is enorme prysgeld op die spel, met $2,2 miljoen (R37 miljoen) wat vir die wenner wink. As ʼn speler die toernooi onoorwonne afsluit (deur al sy wedstryde in die rondomtalie-afdeling te wen), kan hy R81 miljoen verdien.

Vir elke oorwinning in die enkelspel is daar R6,6 miljoen op die spel.

Sondag se program: Rafael Nadal teen Taylor Fritz; Casper Ruud teen Felix Auger-Aliassime.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.