Lewis se ‘annus horribilis’ op die renbaan

Lewis Hamilton. Foto: Karim Sahib/AFP.

Lewis Hamilton is nie vanjaar trots op sy vertoning agter die stuur van sy Mercedes nie.

Die Britse renjaer kon vir die eerste keer in sy loopbaan nie daarin slaag om heel voor op die wegspringrooster te staan, of ʼn wedren te wen nie. Dan was sy sesde plek op die jaerspunteleer sy swakste vertoning nóg.

“Vanjaar was hoegenaamd nie my beste nie. As ek eerlik moet wees, tel dit waarskynlik onder die drie swakste seisoene van my loopbaan,” het Hamilton gesê.

Hy is egter trots op die wyse waarop sy span doodeenvoudig geweier het om handdoek in te gooi.

“Dit is vreemd; toe ons vir die eerste keer vyfde geëindig het, het dit gevoel asof ons die wedren gewen het. Dieselfde kan gesê word toe ons met ʼn vierde of ʼn uiteindelike podiumplek gespog het.”

Hamilton het al vroeg in die seisoen besef dat hy nie by die vlieënde Max Verstappen in sy Red Bull kan kers vashou nie en soms het die frustrasievlakke oorgeloop.

Hy was goed op koers om met die louere op die Zandvoort-renbaan weg te jaag, maar Mercedes het besluit om eerder vir George Russell met die vinniger en nuwer bande toe te rus.

Die bande-fiasko het beteken dat Verstappen én Russell hom kon verbysteek en hy moes met ʼn uiteindelike vierde plek tevrede wees.

George Russell en Lewis Hamilton. Foto: Mazen Mahdi/AFP

“Ek kan nie glo julle het my so ingeloop nie. Julle verstaan nie hoe kwaad ek is nie!” het die 37-jarige renjaer oor die spanradio gebulder. Nodeloos om te sê, het hy die boodskap ook met ʼn vloekwoord of twee ingekleur.

Hoewel hy later om verskoning gevra het, meen Jacques Villeneuve dat sy gedrag nie by ʼn wêreldkampioen-renjaer pas nie. Dan het Russell ook gereeld met beter vertonings as hy vorendag gekom.

Ja-nee – om wyle koningin Elizabeth II aan te haal – dit was inderdaad Hamilton se annus horribilis op die renbaan.

Tog is hy oorgehaal om volgende jaar se kritici se monde te snoer.

“Ek twyfel nie vir een oomblik dat ons volgende jaar beter en sterker sal vertoon nie. Ons sal terug wees. Ek sal terug wees.”

Jaerspunteleer:

  1. Max Verstappen 454 punte
  2. Charles Leclerc 308 punte
  3. Sergio Perez 305 punte
  4. George Russell 275 punte
  5. Carlos Sainz 246 punte
  6. Lewis Hamilton 240 punte
  7. Lando Norris 122 punte
  8. Esteban Ocon 92 punte
  9. Fernando Alonso 81 punte
  10. Valtteri Bottas 49 punte
  11. Sebastian Vettel 37 punte
  12. Daniel Ricciardo 37 punte
  13. Kevin Magnussen 25 punte
  14. Pierre Gasly 23 punte
  15. Lance Stroll 18 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.