Max-ikaanse Grand Prix ongeëwenaar

Max Verstappen – 14 oorwinnings in een seisoen. Foto: Twitter.

In 2004 het die legendariese Michael Schumacher 13 wedrenne in ʼn enkele F1-seisoen gewen. In 2013 het nóg ʼn Duitser – Sebastian Vettel – die prestasie geëwenaar.

Max Verstappen het egter gister die rekordboeke herskryf toe hy sy 14de wedren van die 2022-seisoen in Mexikostad gewen het.

Dit was terselfdertyd sy vierde oorwinning in Mexiko sedert 2017. Net Lewis Hamilton kon in dié tydperk ʼn wedren wen toe hy in 2019 met die louere daar weggejaag het.

Die Mercedes-renjaer het gister tweede geëindig; 15 sekondes stadiger as die vlieënde Nederlander.

Benewens Verstappen se bewese bestuursvernuf, het hy ook by Red Bull se bandestrategie gebaat. Die sagte en medium bande het baie beter as die harde bande op die baan gewerk; vra maar net vir Hamilton.

Sergio Perez het sy tuisskare ʼn rede gegee om fees te vier toe hy nog ʼn podiumplek vir Red Bull verseker het.

“Dit was nog ʼn baie goeie wedren vir die span. Ons het geweet dat die aanloop tot die wedren die moeilikste sal wees en ek moes so lank as moontlik op die sagte bande probeer bly voordat ek met die medium bande toegerus kon word. Ek het weliswaar later ʼn bietjie begin sukkel, maar teen daardie tyd was ek baie tevrede met my voorsprong,” het Verstappen gesê.

Volgens die Red Bull-ster het hy nooit gedink dat hy 14 wedrenne in een seisoen sou wen nie. Sy 416 punte op die jaerspunteleer is ook ʼn nuwe rekord.

“Daar wag nog ʼn wedren of twee op die kalender en hopelik kan ons selfs meer punte aanteken. Tog is dit die belangrikste om die wêreldkampioenskap vir jou span te wen; maak nie saak met hoeveel punte jy dit doen nie.”

Uitslae:

  1. Max Verstappen (Red Bull)
  2. Lewis Hamilton (Mercedes)
  3. Sergio Perez (Red Bull)
  4. George Russell (Mercedes)
  5. Carlos Sainz (Ferrari)
  6. Charles Leclerc (Ferrari)
  7. Daniel Ricciardo (McLaren)
  8. Esteban Ocon (Alpine)
  9. Lando Norris (McLaren)
  10. Valtteri Bottas (Alfa Romeo)

Jaerspunteleer:

  1. Max Verstappen 416 punte
  2. Sergio Perez 280 punte
  3. Charles Leclerc 275 punte
  4. George Russell 231 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Groen Ghoen ·

Briljant! Adrian Newey behoort baie tevrede te wees met sy motor. Hopelik sal Ferrari hul probleme uitsorteer. Dankie tog dat die ultra-vervelige Mercedes era nou verby is.

piet ·

Het ons dan nie nou maar dieselfde situasie dat net ‘n ander span die wedrenne oorheers nie. Ek vind dit vervelig. Same old…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.