Max se werksetiek maak hom uniek

Red Bull se Max Verstappen. (Foto: Twitter/Red Bull)

Volgens Jacques Villeneuve is die rede vir Red Bull se verstommende sukses eenvoudig: Max Verstappen.

Die 26-jarige Nederlander het nie net in 2023 sy derde wêreldkampioenskaptitel op ʼn streep beklink nie, maar hy het ook 19 wedrenne gewen.

ʼn Nuwe rekord.

“Red Bull moes eintlik vanjaar hard baklei vir ʼn goeie plek op die wegspringrooster. Dit is glad nie soos in die dae toe Mercedes dinge oorheers het nie – hulle was by tye ʼn hele sekonde vinniger as hul teenstanders in die kwalifiserende rondes. En gʼn haan het toe daaroor gekraai nie,” het Villeneuve gesê.

Volgens die 52-jarige Kanadees is die RB19-vuurwa inderdaad ʼn mededingende renmotor, maar Verstappen het vir die grootste verskil gesorg.

“Max sal sy hele dag aan F1 wy – dit lyk of hy net nooit moeg word nie. Wanneer hy uit sy renmotor klim, dink hy steeds aan die wedrenne en hoe om te verbeter. Dit is al wat vir hom saak maak.”

Villeneuve meen dat nie een van die ander renjaers dieselfde passie vir die sport het nie.

“Dalk is Fernando Alonso ook ʼn bietjie soos Max, maar die res is besig met ander dinge sodra hulle die kans kry.”

Verstappen het die finale wedren van 2023 in Abu Dhabi gewen. (Foto: Jewel Samad/AFP)

“As hulle almal soos Verstappen gefokus het, sou hulle dalk op sy vlak gewees het.”

Terwyl daar al baie geskryf is oor die Red Bull-ster se vermoë om sy aggressie in toom te hou, glo Villeneuve dat sy wil om te wen ook ʼn reuserol in sy sukses speel.

“Max gee altyd sy heel beste – maak nie saak of dit die eerste of die laaste wedren van die jaar is nie. Hy is op die renbaan en hy wil doodeenvoudig net wen.”

Christian Horner stem heelhartig met Villeneuve se sienswyse saam.

“Ek dink ʼn mens kan nou in dieselfde asem van Max as van Jack Brabham, Ayrton Senna, Niki Lauda en sir Jackie Stewart praat. Alles wat hy vanjaar agter die stuur van sy renmotor gedoen het, was eenvoudig fenomenaal,” het die Red Bull-spanbaas gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ian ·

‘n Gewone vriendelik jong man met fenominale bestuursvernuf. Het reg deur die jaar telkens ongelooflike vertonings gelewer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.