Nadal wen ‘spesiale stryd’ teen Djokovic

Rafael Nadal vier sy oorwinning teen Novak Djokovic in die kwarteindstryd van die Franse Ope. Foto: Anne-Christine Poujoulat/AFP.

Novak Djokovic het al vantevore wedstryde teen Rafael Nadal in die Franse Ope met ’n Everest-ekspedisie vergelyk.

En waar die wêreld se voorste speler ná verlede jaar se manjifieke halfeindstryd op die hoogste punt van die berg gestaan het, het hy gister opnuut besef dat jy op jou heel beste moet wees indien jy met die louere wil wegstap.

Nadal het ’n epiese kwarteindstryd op Roland-Garros met 6-2, 4-6, 6-2 en 7-6 gewen om sy plek in die halfeindstryd teen Alexander Zverev te bespreek.

“Vanaand mag dalk net ’n kwarteindstryd gewees het, maar dit was steeds ’n klassieke wedstryd teen die belangrike agtergrond van die Franse Ope. Dit is altyd spesiaal om teen Novak te speel en ons deel ’n ongelooflike storie van titaniese tweestryde in belangrike toernooie. Dit maak dinge ongetwyfeld meer spesiaal en emosioneel vir my,” het Nadal gesê.

Op sy beurt het Djokovic net lof vir die Spanjaard se vermoë op kleibane gehad.

“Hy het die groot oomblikke van die wedstryd doodeenvoudig net beter hanteer,” het die Serwiër erken.

Die verdedigende kampioen het weliswaar nie die beste aanloop tot die wedstryd gehad nie: Hy het die eerste stel met 6-2 verloor, terwyl hy sommer vroeg in die tweede stel met 3-0 agter was.

Tog is Djokovic nie ’n speler wat sommer handdoek ingooi nie en hy het terugbaklei om die stel met 6-4 te wen.

“Ek het toe gedink dat ek weer terug is in die wedstryd, maar hy het ’n paar uitstekende punte vroeg in die derde stel gewen. Rafa het na ’n hoër rat geskakel en gewys waarom hy ’n kampioenspeler is; hy het ongetwyfeld verdien om te wen.”

Hoewel die oorwinning ’n belangrike tree in die rigting van ’n ongeëwenaarde 14de titel in Parys is, weet Nadal dat daar nog harde werk op hom wag.

“Hierdie was net die kwarteindstryd, nie waar nie? Eintlik het ek nog niks gewen en ek sal weer op my beste in die halfeindstryd moet wees.”

Uitslae:

Alexander Zverev klop Carlos Alcaraz met 6-4, 6-4, 4-6 en 7-6

Rafael Nadal klop Novak Djokovic met 6-2, 4-6, 6-2 en 7-6

Coco Gauff klop Sloane Stephens met 7-5 en 6-2

Martina Trevisan klop Leylah Fernandez met 6-2, 7-6 en 6-3.

Vandag se bepalings:

Veronika Kudermetova teen Daria Kasatkina

Iga Swiatek teen Jessica Pegula

Andrey Rublev teen Marin Cilic

Casper Ruud teen Holger Rune.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Treurwilger ·

Puik prestasie!
Nadal was nie eers ‘n bietjie tam ná sy vorige 5 stel oorwinning nie, op 36- jarige leeftyd net so tikkie verdag.
Skofwenners by die Tour de France ens. word gereeld gesien waar hulle by die ‘toetskaravaan’ ingaan, wonder net of dieselfde van tennisspelers by elke toernooi verwag word.

Novak se Everest is die ongeskikte, onopgevoede skares, nie sy opponente vir wie hy die grootste respek het nie.

Thom ·

Sou Novak gewen het sou dit by jou natuurlik nie ” ‘n tikkie verdag ” gewees het nie maar dié beter speler op groot toernooie hét gewen en jou siek vooroordeel sal dit nie verander nie .

Treurwilger ·

Goed, Thom, dalk die verkeerde oomblik gekies, maar ek wonder lankal of tennisspelers so oombliklik soos fietsryers getoets word.
Sommige verdwyn op ongeleë tye van die baan, Novak ingesluit, en my volste reg om agterdogtig te wees.
Jammer om van jou ontsteltenis te verneem.

Thom ·

Mense soos jy is agterdogtig oor alles want feite word nie deur julle geglo nie maar mites wel . Spelers word deurentyd getoets vir verbode middels.

Treurwilger ·

Ek praat van ONMIDDELLIKE toetse soos ná elke TdF- skof.
Federer het sélf in die verlede die toetsing bevraagteken. In sommige dele van die wêreld word dit moeilik en dus ongereeld uitgevoer en is totaal verdag, volgens Federer.
Blyk prentjies teken nodig hier …

Thom ·

As medici het ons niks te doen met die protokolle per se nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.