Niks Grieks vir Novak in Turyn

Novak Djokovic het vir Stefanos Tsitsipas in Turyn geklop. Foto: Twitter.

Novak Djokovic het sommer so vanuit die staanspoor sy stempel op die ATP-eindtoernooi in Turyn afgedruk toe hy Stefanos Tsitsipas met 6-4 en 7-6 geklop het.

Die 35-jarige Serwiër het nou al tien wedstryde teen die veglustige Griek gewen.

“Ek en Stefanos was onlangs in ʼn paar naelbyt-tweestryde betrokke en dit is baie belangrik om goed teen hom te begin. Ek is tevrede met my afslaanwerk en ek het goeie tennis in die valbylpot gespeel,” het Djokovic gesê.

Hy het ook Tsitsipas se droom gekelder om die volgende wêreldno. 1-speler te word. Die Griek moes al sy wedstryde in Turyn wen om Carlos Alcaraz op die ATP-ranglys te onttroon.

Indien die Djokovic egter met die uiteindelike louere in die Italiaanse stad sou wegstap, sal hy Roger Federer se rekord vir die meeste ATP-eindtoernooiseges ewenaar. Die Switserse tennislegende het ses keer in sy roemryke loopbaan die trofee omhoog gehou.

Uitslae:

Novak Djokovic klop Stefanos Tsitsipas met 6-4 en 7-6

Andrey Rublev klop Daniil Medvedev met 6-7, 6-3 en 7-6

Vandag se bepalings:

Rafael Nadal teen Felix Auger-Aliassime

Casper Ruud teen Taylor Fritz.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.