Nog g’n end aan Novak se entdrama

Novak Djokovic. Foto: Patrick Hamilton/AFP.

Hy is die wêreld se voorste tennisspeler en hy het onlangs die 22ste Grand Slam-titel van sy roemryke loopbaan gewen toe hy met Stefanos Tsitsipas in die eindstryd van die Australiese Ope afgereken het, maar dit lyk of Novak Djokovic se inentingstatus weer eens ʼn stokkie voor sy deelname in die VSA kan steek.

Die 35-jarige speler se naam verskyn weliswaar op die inskrywingslys van die Indian Wells-toernooi in Kalifornië, maar gegewe die VSA se reisregulasies sal hy waarskynlik nie toegelaat word om deel van die aksie te wees nie.

Dit is steeds ʼn vereiste vir alle oorsese reisigers na die VSA om teen Covid-19 ingeënt te wees. Hoewel pres. Joe Biden se administrasie vroeër gesê het dat die noodregulasies in Mei opgehef sal word, sal dit steeds te laat wees vir Djokovic.

Die Indian Wells-toernooi begin reeds in alle erns op 6 Maart.

Oudspeler Tommy Haas, wat aan die stuur van die gesaghebbende ATP-toernooi in Kalifornië staan, het vroeër gesê dit sal ʼn skande wees as Djokovic nie toegelaat word om op die Amerikaanse tennisbane te speel nie.

Hy het bygevoeg dat die organiseerders alles in hul vermoë sal doen om die Serwiër deel van die aksie te maak.

Djokovic is verlede jaar ook toegang tot die VSA geweier, terwyl sy deportasie uit Australië gereeld die koeranthoofopskrifte gehaal het.

Hoewel hy gereeld in die spervuur oor sy inentingstatus is, het Patrick Mouratoglou (bekende tennisafrigter en -kommentator) sy raket ter verdediging van die speler geswaai.

Mouratoglou meen die Serwiese ster kon baie maklik die inenting-omstredenheid omseil het as hy net ʼn plaaslike dokter genader het om te bevestig dat hy teen Covid-19 ingeënt is. Met sy status en aansien sou hy dit waarskynlik sonder veel moeite reggekry het.

Sodoende kon Djokovic in elke toernooi gespeel het en nóg ’n rits Grand Slam-titels sou heel waarskynlik in sy vertoonkas gepryk het.

“Hy het egter geweier om by enige verneukery betrokke te raak en hy staan pa vir sy eie besluite en keuses. Dit is ʼn baie sterk boodskap van iemand wat getrou aan sy waardes en oortuigings bly; ʼn outentieke persoon.”

  • Van die groot name op die Indian Wells-inskrywingslys:

Carlos Alcaraz, Felix Auger-Aliassime, Matteo Berrettini, Novak Djokovic, Taylor Fritz, Hubert Hurkacz, John Isner, Sebastian Korda, Nick Kyrgios, Daniil Medvedev, Andy Murray, Rafael Nadal, Cameron Norrie, Andrey Rublev, Casper Ruud, Holger Rune, Jannik Sinner, Stefanos Tsitsipas en Frances Tiafoe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Groen Ghoen ·

Die woorde Joe Biden en administrasie pas nie bymekaar nie. Vlugtelinge stroom die VSA onbeheers binne. Djokovic is ‘n Serwiër, ‘n land wat nie deel is van die sanksies teen Rusland nie. Daarom kry hy die teenstand van Joe Biden.

Lourens ·

Nie as jy jou gesondheid in stand wil hou nie, in hierdie geval.
Daarby moet jy onthou die Romeine was ‘n agteraf, korrupte en sedelose spul. Nie juis ‘n goeie voorbeeld nie.

Gert ·

Die regerings smag na mense wat sonder enige weerstand neer val en hulle sienings aanbid.

Gert ·

Respek vir n man wat nie beheer word met valse vrees en ook nie gelyk wil word met die wereld nie. My volle ondersteuning aan hom.

Treurwilger ·

Die “entdrama sonder end” gee Novak nuwe woema.
Die skade aan ‘n roemryke loopbaan is egter oneindig.
En die ironie is dat die spelers wat ‘n jaar gelede ingeënt is se ‘beskerming’ lánkal verdamp het sonder sg. ‘boosters’.
Wat ‘n sirkus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.