Novak hoop hy is op sy beste in Parys

Novak Djokovic. (Foto: Twitter/ATP)

Novak Djokovic sal die eerste wees om te erken dat sy voorbereidingswerk vir die Franse Ope allesbehalwe perfek was, maar hy hoop om steeds op Roland-Garros op alle suiers te vuur.

Die 36-jarige Serwiër se veldtog om sy derde titel in die Franse hoofstad in te oes begin môre in alle erns wanneer hy teen Aleksandar Kovacevic van die VSA kragte meet.

“Ek weet ek het glad nie ʼn goeie aanloop tot Roland-Garros gehad nie, maar ek weet hoe om myself te bestuur; Parys is juis die plek waar ek op my beste wil wees. Ek hou duim vas dat ek sal vlamvat en dat alles vir my in plek sal val,” het Djokovic gesê.

ʼn Grand Slam-toernooi is ook ʼn perd van ʼn heeltemal ander kleur: Dit kan oor vyf stelle beslis word en ʼn speler se veerkragtigheid word ongetwyfeld getoets.

“Die belangrikheid van dié toernooie sorg vir ʼn bietjie meer motivering en druk. Ek is oorgehaal om soos altyd my beste te gee en hopelik kan my ervaring my ook help. Ek wil egter nie die wa voor die perd inspan nie en ek gaan op een wedstryd op ʼn slag konsentreer.”

Hy erken dat Rafael Nadal se uittredeplanne hom oor sy eie loopbaan laat besin het.

Die Spaanse kleibaankoning het twee weke gelede aangekondig dat sy heupbesering hom nie net uit vanjaar se Franse Ope hou nie, maar dat hy waarskynlik in 2024 sy laaste professionele tenniswedstryd kan speel.

“Toe Rafa sê dat sy laaste seisoen om die draai is, het dit vir my gevoel of ʼn gedeelte van my ook saam met hom groet.”

Volgens Djokovic het Nadal ’n groot invloed op sy eie loopbaan.

“Hy is beslis ’n dryfkrag en hy motiveer my om nie net aan te hou speel nie, maar ook om beter te wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

George ·

Novak klink soos daai ou by golf dae wat jou eers vertel hoe lank terug hy gespeel het, en hoe seer sy skouer eintlik is, voor die eerste Tee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.