‘Novak kan selfs beter word’ – afrigter

Novak Djokovic het die ATP-eindtoernooi vir die sesde keer in sy loopbaan gewen. Foto: Marco Bertorello/AFP.

Novak Djokovic het Casper Ruud in die eindstryd van die ATP-eindtoernooi in Turyn met 7-5 en 6-3 geklop. In die proses het hy nie net Roger Federer se rekord van ses oorwinnings geëwenaar nie, maar hy het ook $4,7 miljoen in sy sak gesteek.

En dit lyk nie of die 35-jarige Serwiër van plan is om binnekort sy tennisraket weg te bêre nie.

“Ek weet nie wat die toekoms vir my inhou nie, maar wat ek wel weet is dat ek nog baie honger vir sukses is. Ek wil die geskiedboeke herskryf, op die hoogste vlak wêreldwyd deelneem en sorg dat die ondersteuners die spel geniet,” het Djokovic gesê.

Hy het nog net een wedstryd sedert die Watergen-ope in September verloor, terwyl hy met sy jongste triomftog sy 91ste ATP-trofee vier.

Ruud het weliswaar sy bes probeer, maar Novak Djokovic weet maar net hoe om belangrike wedstryde te wen.

“Daar is ʼn baie fyn lyn tussen wen en verloor in uitklopwedstryde. Ek het geweet dat Casper vuurwarm tennis in aanloop tot die eindstryd gespeel het, maar ek is gewoonlik op my heel beste in drukkoker-situasies.”

En volgens Goran Ivanisevic kan die Serwiese tennisster in die toekoms selfs beter word.

“Novak oefen deesdae harder as ooit; baie meer as toe hy 22 jaar oud was. Dit is die hoofrede waarom hy nog so goed is en waarskynlik selfs beter sal word. Sy wil om te oefen en om sy vaardigheid op die baan te slyp, is ongelooflik inspirerend,” het die Kroatiese oudspeler gesê.

Ivanisevic het Djokovic se afslane uitgesonder.

“Almal het altyd gedink dat hy daarmee sukkel, maar hier in Turyn het hy baie punte daarmee gewen en dit het hom gered wanneer hy in ʼn moeilike situasie was. Sy teenstanders kry doodeenvoudig net nooit ʼn blaaskans wanneer hulle teen hom speel nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Amelia ·

Hiermee het Djokovic bewys dat hy nogsteeds die beste is in die wêreld, ten spyte van wat ookal die Australiërs et al in sy rigting gooi. Hy laat hom eenvoudig net nie onderkry nie!

George ·

Die het mos nou niks te doen met die Aussies se reg nie. Hulle was 100% korrek met hulle besluit.

Leon ·

Is die beste in die wereld. Hy het teen mededev bewys dat ongeag n 10 jaar verskil in ouderdom by onstuitbaar is. Die Australiese ope is in sy visier

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.