Orania-inwoner wys krag met Afrika-rekord

Tommie de Nysschen het ’n bobaas vertoning by Sun City gelewer. (Foto: Verskaf)

Tommie de Nysschen oefen gereeld op sy eie. Sommer daar in die tuin onder die groot boom van sy huis in Orania terwyl Bismarck – sy Jack Russell – ʼn wakende oog oor alles hou.

En nou, op 60-jarige ouderdom, spog hy met ʼn Suid-Afrikaanse, Afrika- én Statebondrekord agter sy naam.

De Nysschen, wat in die o. 74 kg-gewigskategorie vir deelnemers tussen 60 en 70 jaar deelgeneem het, het tydens die International Powerlifting Federation (IPF) se Wêreldkampioenskap by Sun City op die hoogste trappie van die podium gestaan.

Sy teenstanders se wenkbroue moes seker sommer so saam met die gewigte gelig het toe hy 135 kg in die bankiedruk-item (bench press) opgestoot het.

“Dit het jare se harde oefening geverg; só iets gebeur nie sommer net in een jaar nie. Ek is baie trots op myself want ek weet hoeveel ure ek ingesit het. Terselfdertyd voel ʼn mens ook nederig want jy weet dat die ander ouens net so hard voorberei het,” het De Nysschen aan Maroela Media gesê.

EN DIE NUWE WÊRELDKAMPIOEN… UIT ORANIA!Orania se eie Tommie de Nysschen het by die "International Powerlifting Federation' se wêreldkampioenskap vir bankiedruk (benchpress) die rekords laat spat!Tydens die kompetisie, wat vanjaar op 20 Mei by Sun City plaasgevind het, het Tommie in die onder 74kg gewigsgroep, vir die ouderdomsgroep 60-70 jaar oud, 135kg opgestoot en Suid-Afrikaanse, Afrika- en statebond rekords verbeter!Uitstekend Tommie, en baie geluk!

Posted by Orania on Monday, May 29, 2023

Hy vertel dat hy op 27-jarige ouderdom ophou rugby speel het en eers in 2014 meer ernstig aan sy gimnasiumvaardighede begin skaaf het.

“In my speeldae was dinge anders as vandag. Jy het op die veld geoefen, gewerk en Saterdae wedstryde gespeel.”

Spelers moes maar op hul natuurlike krag reken om die ander span te uitoorlê.

Oefen by die huis saam met Bismarck. (Foto: Verskaf)

Volgens De Nysschen is sy beste bankiedrukprobeerslag eintlik 145 kg, maar toe het hy 10 kg meer geweeg.

“Ek het verlede jaar die besluit geneem om in die o. 74-kategorie deel te neem en dit het baie dissipline geverg – veral wat jou eet- en oefengewoontes betref.”

Dit moes seker ʼn taamlike aanpassing gewees het. Liggaamsgewig vertolk immers ook ʼn belangrike rol in dié sportsoort.

Hy kon aanvanklik 20 kg minder opstoot, maar kort voor lank was hy weer op sy beste.

“Ek oefen drie keer per week en elke sessie duur omtrent so twee uur. Soms skaaf ek ook by die Gemsbok-sportinstituut aan my vaardighede, maar ek geniet die buitelug.”

In die wintermaande maak die koue dinge aansienlik moeiliker, maar kort voor lank sorg sy oefenplan dat sy spiere weer goed warm is.

De Nysschen begin eers met ligter gewigte en maksimum repetisies, waarna dinge geleidelik swaarder word.

“Dit is maar ʼn kombinasie van spierbou en swaarder gewigte optel. Jy sal nooit sterker word as jy nie swaarder gaan nie.”

Nodeloos om te sê, hy neem omtrent maandeliks aan kompetisies deel; ʼn mens moet immers jou deel doen om vir die groter kampioenskappe te kwalifiseer.

“Ek sal graag internasionaal wil deelneem. Volgende jaar is daar weer ʼn groot byeenkoms in Texas en ek sal daar graag dieselfde as by Sun City wil doen. Dit is egter maklik om tuis te wen; wanneer jy 15 000 km moet vlieg, is dit beslis ʼn ander storie.”

Tommie de Nysschen is egter iemand wat bereid is om hard te werk om sy doelwit te bereik. En dit is nou nie altemit nie.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.