Proteas vanaand weer in aksie ná puik oorwinning

Die Proteas en Jamaika in aksie. Foto: (Peter Byrne/PA via AP)

Suid-Afrika se netbalspan kom vanaand teen Skotland te staan nadat hulle Sondag Jamaika, wat tweede op die wêreldranglys is, laat les opsê het.

“Dit is fantasties om bo in ons poel te lê. Dít is die wedstryd waaroor ons gepraat het. Dit is waaroor die wêreldbeker vir ons gaan – om daardie kritieke oorwinning oor Jamaika te behaal,” het Maryka Holtzhausen, hulpdoel, ná die wedstryd gesê.

Die Proteas, wat vyfde op die wêreldranglys is, het die Sunshine Girls met 55-52 in die Wêreldbeker-toernooi in Liverpool, Engeland, geklop.

“Dit is ʼn baie belangrike wenbeurt, want dit is gewoonlik hier waar ons vasval en dan lê ʼn moeiliker pad voor na die semi’s,” het veteraanspeler Erin Burger gesê.

Lenize Potgieter het 36 uit 39 doelpogings gesink en Holtzhausen het 19 van 29 pogings deur die sakkie gejaag.

Suid-Afrika het met sy oorwinning eerste in Groep C geëindig. Engeland, Australië en Nieu-Seeland het almal ook eerste in hul groepe geëindig. Die groepwenners, asook die spanne wat tweede en derde in elke groep geëindig het, beweeg nou aan na Groep F of G, waar die toernooi se top-12 spanne hul stryd sal voortsit om ʼn plek in die halfeindronde te verseker.

Die Proteas het Skotland al agt keer die stryd aangesê en al agt wedstryde gewen. Skotland is sewende op die wêreldranglys. Die wedstryd begin om 18:25 (SA tyd). Suid-Afrika speel dan Woensdag teen Uganda en Donderdag teen gasheer Engeland.

Al die wedstryde word regstreeks op SS10 uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

valerie ·

Hoekom doen hulle gereeld goed? daar is nie TV-aandag jagters in die span nie, en hulle wen ook nie wedstryde voordat hulle op die baan is en speel nie. O, ja, en daar is geen arrogansie by spelers of buitensporige borge vir spelers nie. Dit gaan nog oor talent en liefde vir die spel. Hou so, aan, die groot trofees sal kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.