Red Bull-baas: Hamilton het sy moses teengekom

Max Verstappen agter die stuur van sy renmotor. Foto: Twitter.

Christian Horner, die Red Bull-spanbaas, blaas steeds vuur agt dae ná Lewis Hamilton en Max Verstappen se ongeluk op die Silverstone-renbaan in Engeland.

Hoewel wedrenbeamptes die Mercedes-renjaer met tien sekondes gestraf het omdat hy die ongeluk veroorsaak het, het hy (met Verstappen uit die prentjie) eerste oor die eindstreep gejaag. ’n Toedrag van sake wat ongetwyfeld ’n wrang smaak in die mond van Red Bull-ondersteuners laat.

“Lewis was beslis die aggressor op Silverstone gewees,” het ’n veglustige Horner teruggekap nadat Hamilton gekla het dat Verstappen te aggressief agter die stuur is.

Volgens Horner is Verstappen nie meer die 17-jarige F1-groentjie van ouds nie, terwyl die 36-jarige Hamilton ook nie meer dieselfde bestuurder is as toe hy destyds sy buiging gemaak het nie.

“Ja, hulle jaag verbete in hul renmotors, maar albei is bekwame bestuurders met oorgenoeg ervaring. Die werklikheid is dat Lewis nou kragte meet met ’n talentvolle renjaer in ’n soortgelyke motor.”

Intussen beloop die skade aan Verstappen se renmotor ongeveer $1,8 miljoen.

Tog meen Horner dat die Red Bull-ster nie te veel oor die gebeure op Silverstone sal tob nie en dat hy oorgehaal is om die bordjies hierdie naweek in Hongarye te verhang.

“Die Hongaarse Grand Prix sal ’n splinternuwe uitdaging bied en Max sal wil hê dat sy vertoning agter die stuur die praatwerk namens hom moet doen. Die ongeluk dien as ’n aansporing vir ons almal om ons beste te lewer.”

Die aksie begin Sondag om 15:00 en sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Duck ·

Altwee maar ewe windgat en bestuur aggresief wat net ‘n verloop van tyd gewees dat hul mekaar uitvat. Nou wag ons op die “revenge” want ek dink nie dit sal daar gelos word nie, daar is te min punte verskil en altwee wil as die wèreld kampioen gekroon word. Daar kan net een wees so ons sal maar moet wag en sien. Dit is ongetwyfeld nie die laaste keer dat hul gaan bots nie.

Windhond ·

As jy nie aggressief bestuur nie moet jy maar die ou karretjie na jou Sondag middag rit gaan parkeer – defensiewe bestuur is vir openbare strate – wat Hamilton gedoen het was dieselfde as pad woede met aggressie met voorbedagde rade, dis mos die “age of self entitlement”, terwyl mens op die kruin is

Annakapat ·

Horner kan gerus nou aan beweeg. Sy geteem raak nou afgesaag. Klink of dit erger vir hom was as vir Max.

Janine ·

En ander drywers se lewens. Lyk my die hamilton fans is net so arrogant soos wat hy is. ;)

koos10 ·

Geld of te not. Hy en Marko is soos die duracel bunny. Die bestuurders is tjoep stil. Nog nooit in my 30 jaar van F1 ondersteuning het ek gehoor dat ‘n “racing incedent”, in my opinie, so lank nog oor gekla word nie. Tyd dat hulle verstaan dat dit verby is, en dat hulle moet aan beweeg, anders gaan dit sielkundig op die volgende wedren werk.

Janine ·

$1.8 miljoen dollar se skade… Max Verstappen kon baie seerder gekry het (of dood gewees het!), maar Horner mag nie sy opinie gee nie? Niemand verplig jou om die artikels te lees nie. Seker ‘n hamilton fan. Ewe arrogant. Tsk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.