Renjaers en rekords tans nie opgewasse teen ‘Super Max’

Red Bull se Max Verstappen vier sy sukses in Abu Dhabi. (Foto: Guiseppe Cacace/AFP)

Max Verstappen hou daarvan om F1-wedrenne te wen.

Sy segetog het vanjaar onder meer van Melbourne tot Monte-Carlo of van Bahrein tot België gestrek en hy het uiteindelik 19 van die 22 wedrenne gewen.

’n Wêreldrekord.

Sy jongste triomftog in Abu Dhabi is sy vierde sege op ’n streep in dié Verenigde Arabiese Emirate-stad en dit is sy beste vertoning nóg by ’n enkele renbaan.

Verstappen het ná Sondag se wedren-aksie gesê dat dit waarskynlik baie moeilik gaan wees om in die toekoms weer met soortgelyke vertonings as in 2023 vorendag te kom.

En ’n mens kan verstaan waarom hy dit sê.

Benewens sy 19 seges, hou hy ook die rekord vir die meeste agtereenvolgende wedrenoorwinnings (10), die meeste podiumvertonings (21) en die meeste punte op die jaerspunteleer (575).

Max Verstappen het 19 wedrenne in 2023 gewen. (Foto: Jewel Samad/AFP)

O ja, hy het die naasbeste renjaer op die punteleer – arme Sergio Perez – met 290 punte ore aangesit.

Dan het hy die eerste renjaer in die sport se geskiedenis geword om vir meer as 1 000 rondes in ’n Grand Prix-seisoen voor te loop.

Om dinge in perspektief te plaas: Verstappen het vir altesaam 1 003 rondes voorloperstatus geniet; ’n prestasie wat Alain Prost en Ayrton Senna destyds gesamentlik vir McLaren in die 1988-seisoen vermag het.

G’n wonder nie Red Bull-spanbaas Christian Horner bestempel hom as een van die beste bestuurders nóg.

“Dit is verreweg ons beste seisoen en ek dink ʼn mens kan nou in dieselfde asem van Max as van Jack Brabham, Ayrton Senna, Niki Lauda en sir Jackie Stewart praat. Alles wat hy vanjaar agter die stuur van sy renmotor gedoen het, was eenvoudig fenomenaal,” het die Engelsman gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Frank ·

Ongelooflike prestasie neer gesit hierdie jaar.
Met dank aan gianpiero Lambiase sy ingenieur.
En aan die res van die span op die Track en 2500 mense in mylton kyenes, hulle het dit moontlik gemaak.
En 1000 rondes aan die top in 2023 wêreld klasse!!
Trots op Max Verstappen ????????

Jacques Dawie ·

Max is bobaas, saam n goeie span en goeie kar. Wat my suur onder die kraag het, is die oorweldigende kamera en dekking verliefdheid met Lewis Hamilton. Selfs op die laaste rondte, 58, dek hul Lewis, wat in 9de’ plek was. Dit is net pateties, daar is n hele veld om te dek maar nee. Swak hoe die Britse omroepers dekking manipuleer vir LH, pateties. Russel sit vir hom ore aan, hoekom nie Russel dek nie???

Jackie ·

Mense wat nie van Max hou moet net weet hy is nog nie klaar nie. Go Max.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.