Stillknocks takel gevegsvoorbereiding kaalvuis

Dricus du Plessis en Trevin Giles. Foto: Twitter.

Dricus “Stillknocks” du Plessis sal binnekort op sy uitstekende Ultimate Fighting Championship-buiging wil voortbou wanneer hy op 20 Maart die VSA se Trevin Giles in Las Vegas aanvat.

Die Suid-Afrikaner het vandeesweek ’n video van sy voorbereidingswerk in Pretoria gedeel en hy lyk fikser as ooit.

Sy oefenmaats sonder hom as die hardste werker in die gimnasium uit – hy is letterlik daardie ou wat eerste opdaag net om weer laaste te loop.

“Dricus loop altyd oor van die selfvertroue voor ’n geveg en hy word beter ná elke een,” het die belowende jong gemengdegevegskuns-atleet, Cameron Saaiman, gesê.

Volgens Saaiman spruit hierdie selfvertroue uit Du Plessis se vertroue in homself, sy span en sy voorbereidingswerk.

Hy het verlede jaar amok in sy Ultimate Fighting Championship-buiging teen Brasilië se Markus Perez gemaak toe hy die geveg in die eerste ronde op Dana White se Fight Island in Abu Dhabi gewen het.

Hoewel die meer ervare Perez sterk begin het, het Du Plessis vinnig sy voete gevind en op die aanval oorgegaan. Een van sy opstoppers het die Brasiliaan góéd getref en die gevegbeampte het kort daarna die aksie stopgesit.

Dit was ’n verstommende oorwinning vir die man wat in Pretoria aan sy vaardighede slyp en hy het ná afloop van die geveg ook sy stem oor plaasmoorde dik gemaak.

“Suid-Afrika gaan tans deur ’n moeilike tyd met plaasmoorde wat hoogty vier; mense word daagliks vermoor,” het Du Plessis destyds gesê.

So van Pretoria gepraat.

Anders as die meeste vegters vanuit Afrika wat in oorsese lande voorberei, het Du Plessis bevestig dat hy beplan om vir die duur van sy loopbaan onder die vaandel van die Jakarandastadse gimnasium aan sy vaardighede te skaaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.