‘Stillknocks’ terug in UFC-hok

Dricus du Plessis vier sy oorwinning nadat hy vir Trevin Giles in Las Vegas uitgeslaan het (Foto: UFC/Twitter)

Dit is amptelik.

Nadat ’n ontydige besering Dricus “Stillknocks” du Plessis se geveg teen André Muniz gekniehalter het, is die gewilde Suid-Afrikaanse gemengdegevegskuns-ster nou weer op 9 April in aksie.

Hy sal dan die VSA se Chris Curtis in ’n middelgewig-kragmeting by UFC273 die stryd aansê. Organiseerders het nog nie die venue vir die gevegte bekend gemaak nie.

“Dit is tyd om die ranglys-leer te klim; topvyf hier kom ek!” het hy op sosiale media gesê.

Du Plessis het soos ’n vetgesmeerde blits op die groot verhoog weggetrek en hy het sy eerste twee Ultimate Fighting Championship-gevegte met uitklophoue gewen.

Hy het eerste vir Markus Perez in Abu Dhabi planke toe gestuur, waarna hy vir Trevin Giles in Las Vegas laat les opsê het.

“My naam is Dricus du Plessis. Dis nie ’n baie moeilike naam om uit te spreek nie, maar ek sien mense sukkel om dit te sê. Onthou dit maar gerus, want dit gaan binnekort ’n alombekende naam in UFC-kringe wees,” het hy gesê nadat hy vir Giles harpuis laat ruik het.

Die Suid-Afrikaner sal ook oorgehaal wees om sy staal ná sy skouerbesering te wys.

“Dit is nou tyd om die herstelproses beter as enigiemand anders ooit vantevore aan te pak,” het Du Plessis destyds uit sy hospitaalbed gesê.

En hy sal sy bes doen om op sy onoorwonne UFC-rekord voort te bou.

Dit sal egter ’n taai uitdaging wees want Curtis was ook nog nie ná sy twee gevegte aan die verloorkant nie.

Daar is egter min atlete wat so goed soos Du Plessis vir ’n geveg voorberei.

Ander UFC273-gevegte:

Alexander Volkanovski teen Chan Sung Jung

Aljamain Sterling teen Petr Yan

Pat Sabatini teen Gavin Tucker

Mickey Gall teen Mike Malott

Mackenzie Dern teen Tecia Torres.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.