Supa-Piet sorg vir nóg ’n goue Tokio-glimlag

Pieter du Preez het Suid-Afrika se derde goue medalje by die Paralimpiese Spele in Tokio gewen. Foto: Twitter.

Suid-Afrika het al vier medaljes by die Paralimpiese Spele in Tokio ingeoes waarvan drie goud is. Pieter du Preez is verantwoordelik vir die jongste podiumsukses nadat hy sy handfietsry-item gewen het.

En die 41-jarige gouemedaljewenner se bynaam is nie verniet Supa-Piet nie.

Du Preez het in vandag se tydtoetseindronde met ’n tyd van 43:49:41 koning gekraai; amper twee minute vinniger as Italië se Fabrizio Cornegliani in die tweede plek.

Dit was egter so hittete of sy goue resies het in ’n nagmerrie ontaard. ’n Fietsryer – wat in ’n ander kategorie deelneem – het voor hom ingejaag en die twee het byna teen mekaar vasgery.

“Ek het hom net te laat gesien en uitgeswaai; op ’n stadium was ek op net twee wiele. My arm het sy wiel getref, só naby was ons aan mekaar,” het hy gesê.

Die pad na sukses is inderdaad nie altyd maklik nie. In 2003 het sy nek in ’n fietsryongeluk gebreek, terwyl hy sleg geval het en sy AC-gewrig heeltemal ontwrig het.

Maar 2021 is ’n goeie jaar vir hom.

Die Suid-Afrikaner is ongetwyfeld een van die wêreld se voorste handfietsryers. Benewens sy goue vertoning in Tokio het hy ook vroeër vanjaar die Wêreldkampioenskap (padresies) in Portugal gewen.

“Dit is baie spesiaal; ek was in trane toe ek oor die eindstreep gejaag. As ’n sesjarige het ek daarvan gedroom om goud by die Olimpiese Spele te wen, nodeloos om te sê het ek nie daaraan gedink dat ek aan die Paralimpiese Spele sou deelneem nie.”

“Die goue medalje wys dat ons almal ’n verskil kan maak. As ons almal saamstaan kan ons Suid-Afrika ’n wonderlike land maak.”

Suid-Afrika is tans 25ste op die medaljepunteleer. China (126 medaljes) is die voorloper, gevolg deur Groot-Brittanje (72 medaljes) en die Russiese Paralimpiese Komitee (67 medaljes).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.