Super Max ʼn sneltrein op Silverstone

Die geruite vlag is weer eens vir Max Verstappen geswaai. (Foto: Christian Bruna/AFP)

Die MSC-handelsmerk pryk oral langs die Silverstone-renbaan in Engeland en dit is eintlik heel gepas: Max Verstappen het weer eens gewen en dit lyk inderdaad asof hy vanjaar op ʼn luukse passasierskip ontspan terwyl sy teenstanders spartel om hom in te haal.

Die geruite vlag is vandag vir die sesde keer op ʼn streep vir die Red Bull-renjaer geswaai en hy het sy voorsprong op die jaerspunteleer na 99 punte vergroot.

Lando Norris het weliswaar vir ʼn geringe kopseer gesorg toe hy hom kort ná die wegspring verbygesteek het, maar die Red Bull se pylvakspoed is topklas en Verstappen kon ʼn kort rukkie later weer die voortou neem.

Die verdedigende wêreldkampioen het na afloop van die wedren erken dat die McLaren-renmotors se spoed hom amper onkant betrap het.

“Ons het glad nie goed weggespring nie en dit is beslis iets waarna gekyk moet word. Al twee McLaren-renjaers was baie vinnig en dit het my ʼn paar rondes geneem om weer my neus voor te kry,” het Verstappen gesê.

“Ek is egter baie in my skik met die oorwinning. Elf agtereenvolgende seges vir die span is ʼn ongelooflike prestasie.”

In die 33ste ronde was daar drama toe Kevin Magnussen se Haas onklaar geraak het en aan die brand geslaan het. Hy is nie beseer nie en nadat die veiligheidsmotor vir ’n paar rondes ontplooi is, is die Grand Prix hervat met Verstappen volstoom op pad ná nóg ʼn oorwinning.

Mercedes se Lewis Hamilton het die wedren in die derde plek afgesluit; tussen die McLarens van Norris en Oscar Piastri.

“Ek en Lando het ʼn lekker tweestryd geniet. Ek het net nie oor genoeg woema beskik om hom in die pylvak verby te steek nie. Maar om sewende te begin en derde klaar te maak is beslis ʼn goeie vertoning.”

Sergio Perez was sesde, terwyl Ferrari se Charles Leclerc en Carlos Sainz met ʼn negende en tiende plek tevrede moet wees.

  • Die 160 000 toeskouers, waarvan die oorgrote meerderheid Britse ondersteuners was, sal die Engelsmanne (Norris en Hamilton) se podiumvertonings waarskynlik nog lank koester.

Uitslae:

  1. Max Verstappen (Red Bull)
  2. Lando Norris (McLaren)
  3. Lewis Hamilton (Mercedes)
  4. Oscar Piastri (McLaren)
  5. George Russell (Mercedes)
  6. Sergio Perez (Red Bull)
  7. Fernando Alonso (Aston Martin)
  8. Alex Albon (Williams)
  9. Charles Leclerc (Ferrari)
  10. Carlos Sainz (Ferrari)

Jaerspunteleer:

  1. Max Verstappen: 255 punte
  2. Sergio Perez: 156 punte
  3. Fernando Alonso: 137 punte
  4. Lewis Hamilton: 121 punte
  5. Carlos Sainz: 83 punte
  6. George Russell: 82 punte
  7. Charles Leclerc: 74 punte
  8. Lance Stroll: 44 punte
  9. Lando Norris: 42 punte
  10. Esteban Ocon: 31 punte

Vevaardigerspunteleer:

  1. Red Bull: 411 punte
  2. Mercedes: 203 punte
  3. Aston Martin: 181 punte
  4. Ferrari: 157 punte
  5. McLaren: 59 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.