Swiatek, Svitolina wen terwyl aandklokreël Djokovic keer

Elina Svitolina (Foto: ROB PRANGE/Spain DPPI/DPPI via AFP)

Iga Swiatek en Elina Svitolina het hul plekke in vanjaar se Wimbledon-kwarteindstryd bespreek terwyl Novak Djokovic se wedstryd deur ʼn aandklokreël onderbreek is.

Swiatek, die wêreld se voorste vrouespeler, het die Olimpiese kampioen Belinda Bencic met 6-7 (4/7), 7-6 (7/2), 6-3 geklop om vir die eerste keer ʼn plek in die kwarteindronde te bespreek.

Oekraïne se Svitolina het Victoria Azarenka van Belarus met 2-6, 6-4, 7-6 (11/9) verslaan. Svitolina het geweier om Azarenka se hand te skud uit protes teen Belarus se steun aan Rusland in die oorlog teen Oekraïne. Azarenka is egter deur toeskouers van die baan af geboe.

“Dit was nie regverdig nie. Wat kan ek doen?” het Azarenka later gesê. “Ek het niks verkeerd gedoen nie, maar ek kan nie die skare beheer nie. Ek is nie seker of baie mense verstaan het wat aan die gebeur is nie.”

Ondanks die omstredenheid het Svitolina die oorwinning as een van haar grootste oomblikke beskryf.

“Ek dink naas die geboorte van ons dogtertjie is dit die tweede gelukkigste oomblik in my lewe,” het Svitolina, wat met die Franse tennisster Gael Monfils getroud is, gesê.

Djokovic het intussen met 7-6 (8/6), 7-6 (8/6) teen Hubert Hurkacz voorgeloop toe spel om 23:00 gestaak is weens ʼn ooreengekome aandklokreël.

Die twee se wedstryd sal Maandag hervat word met die wenner wat Andrey Rublev sal pak vir ʼn plek in die halfeindronde. Rublev het die 23ste gekeurde Alexander Bublik met 7-5, 6-3, 6-7 (6/8), 6-7 (5/7), 6-4 geklop.

Intussen het Mirra Andreeva se sprokieseisoen voortgeduur toe die 16-jarige Rus die vierde ronde gehaal het deur haar landgenoot Anastasia Potapova, 22ste gekeur, met 6-2, 7-5 te verslaan.

Wedstryde om vandag dop te hou

Die wêreld se voorste speler, Carlos Alcaraz, speel teen Matteo Berrettini in ʼn poging om vir die eerste keer in sy kort loopbaan die laaste agt by die All England-klub te haal.

Petra Kvitova kom teen Ons Jabeur te staan, terwyl Andreeva die 25ste gekeurde Amerikaner Madison Keys pak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

George ·

En sy het beheer oor haal land? Belaglik, swaksportsmanskap that’s it. Jy tree so teen haar op net omdat sy Belarus is. So jy doen wat die Russe met julle doen, net omdat jy Ukranian is. Sien jy dit nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.