Tennis: Emma Raducanu se sprokiesverhaal

Emma Raducanu van Engeland wen die Amerikaanse Ope se vroue-enkelspeltitel in New York (11 September 2021) (Foto: Al Bello/Getty Images/AFP)

Die Britte het 44 jaar lank hiervoor gesmag en wêreldtennis het nie geglo dat dit moontlik sou wees nie.

Die 18-jarige Emma Raducanu van Bramley in Engeland, het Saterdagaand (Suid-Afrikaanse tyd) in New York die Amerikaanse Ope se vroue-enkelspeltitel gewen toe sy die byna ewe jong 19-jarige Kanadees Leylah Fernandez met 6-4 6-3 in die eindstryd geklop het.

Die onbesonge Raducanu, wie se pa ʼn Roemeniër is en haar ma van Chinese afkoms is, het volgens die BBC op tweejarige ouderdom saam met haar ouers na Engeland geëmigreer nadat sy in Toronto gebore is.

Sy het nog net in vier senior toernooie gespeel en was slegs 338ste op die wêreldranglys toe sy vroeër vanjaar die vierde ronde, as ʼn promotorskeuse, op Wimbledon kon haal waar sy haar vanweë asemhalingsprobleme moes onttrek het.

Nadat sy ʼn paar maande gelede haar skoolloopbaan met twee onderskeidings in wiskunde en ekonomie afgesluit het, moes sy eers van 25 Augustus af in New York kwalifiseer om tot die hoofloting in die Amerikaanse Ope toegelaat te word.

Sy was nie seker of sy dit sou maak nie en het ʼn vlug terug Engeland toe bespreek … net ingeval.

Nou, slegs 17 dae later, het sy in 10 wedstryde sedert kwalifisering nie ʼn stel afgestaan nie; sy het die eerste kwalifiseerder geword wat ʼn Grand Slam-titel kon wen; sy is die jongste Grand Slam-kampioen sedert Maria Sharapova in 2004 op Wimbledon ook gewen het; sy is die jongste Brit wat ʼn Grand Slam-titel verower het; en is die eerste vroue-speler wat nie ʼn stel in die Amerikaanse Ope afgestaan het sedert Serena Williams die titel in 2014 gewen het nie.

Raducanu sal Maandag tot 23ste op die wêreldranglys opskuif, Brittanje se voorste vroue-speler word en haar bankbalans het met £1,8 miljoen (sowat R35,3 miljoen) gegroei.

Die 76-jarige Virginia Wade het in 1968 ook die Amerikaanse Ope gewen en in 1977 die Wimbledonse titel … die laaste Brit wat dit kon regkry. Wade was een van die 24 000 toeskouers op die Arthur Ashe-baan toe Raducanu die titel gewen het. Wade was in trane toe die borrelende Raducanu op haar rug op die baan ná haar oorwinning neergesak het.

Sy kon dit nie glo nie, so ook nie wêreldtennis nie.

Emma Raducanu van Engeland wen die Amerikaanse Ope se vroue-enkelspeltitel in New York (11 September 2021) (Foto: Matthew Stockman/Getty Images/AFP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Vrijburger ·

Wat ‘n puik en aanskoulike wedstryd was dit, gespeel deur twee talentvolle jong dames!
Wat ook uitgestaan het was hul vriendelikheid, grasie en styl – veral tydens die onderhoude.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.