Twee podiumplekke in een naweek vir Brad Binder

(Foto: Red Bull KTM Factory Racing/Twitter)

Dis nou net ʼn kwessie van tyd voordat Suid-Afrika se Brad Binder (Red Bull KTM) ʼn oorwinning in vanjaar se MotoGP (hoofren) gaan behaal.

Binder het Sondag op die Red Bull Ring in Spielberg die tweede keer in een naweek tweede op die podium gestaan toe hy tweede in die Oostenrykse MotoGP geëindig het.

Die naweek se twee renne (naelritren en hoofren) is albei deur die huidige wêreldkampioen, Francesco Bagnaia (Ducati Lenovo), gewen.

Bagnaia was in albei renne in die eerste wegspringposisie, het van die begin af voor gejaag en enduit daar gebly.

Binder, wat Saterdag 2.056 sekondes agter Bagnaia in die naelritren geëindig het, was Sondag 5.191 sekondes agter Bagnaia in die MotoGP.

Het hy nie, net soos in Saterdag se naelritren, probleme met sy voorste band se bandgreep ondervind nie, kon hy dalk gewen het.

Marco Bezzecchi (Mooney VR46 Ducati) was derde, gevolg deur Luca Marini (VR45 Ducati), Alex Marquez (Gresini Ducati) en Maverick Viñales (Aprilia).

Binder se Red Bull KTM-spanmaat Jack Miller, het 16de geëindig, ʼn bewys van hoe groot die gaping tussen die twee Red Bull-spanmaats is.

Binder spog vanjaar in MotoGP reeds met twee tweede plekke, ʼn derde plek (Britse MotoGP), ʼn vierde plek in die Nederlandse MotoGP, ʼn vyfde plek in die Italiaanse MotoGP en twee sesde plekke (Portugal en Frankryk).

Hy het reeds twee naelritrenne vanjaar (in Argentinië en Spanje) gewen en spog nou met nege podiumplekke.

Binder, wat sy MotoGP-debuut in 2020 gemaak het, was die naweek in die derde wegspringposisie.

Dit was slegs die tweede keer in sy MotoGP-loopbaan dat hy in die voorste ry weggespring het.

Hy het, net soos in die naelritren, ná die wegspring na vore geskiet en by Bagnaia gehou, maar kon hom nie verbysteek nie.

Hy was vir byna tien rondes in Bagnaia se truspieëltjie, maar die Italianer het kopgehou terwyl Binder sy bande beskerm het.

Binder (160 punte) is nietemin steeds vierde op die kampioenskapspuntelys. Bagnaia is eerste (251), Jorge Martin (189) tweede, Bezzecchi (183) derde en dan volg Binder.

Hou hom maar dop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Edmund ·

Welgedaan Brad. Dit is so lekker om jou op die podium te sien. Hou so aan met jou KTM!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.