Verstappen het geen gelyke in 2023

Max Verstappen (Foto: GEORG HOCHMUTH/APA/AFP)

Max Verstappen (Red Bull) se oorheersing in vanjaar se Formule Een-reeks is so groot dat hy Sondag op die Red Bull Ring in Spielberg in die voorlaaste ronde in die kuipe aangedoen het om bande om te ruil om sodoende die bonuspunt vir die vinnigste ronde ook voor die ander jaers weg te raap.

Verstappen het die Oostenrykse F1-Grand Prix oor 71 rondes in 1 uur 25 minute en 323.607 sekondes gewen. Ondanks sy laaste kuipestop, het hy steeds 5.155 sekondes voor Charles Leclerc (Ferrari) verby die geruite vlag gejaag.

Leclerc was verlede jaar in Oostenryk eerste, die laaste keer dat Ferrari kon wen.

Sondag was hy tweede, Sergio Pérez (Red Bull) derde, gevolg Carlos Sainz (Ferrari), Lando Norris (McLaren) en Fernando Alonso (Aston Martin).

Verstappen het 26 punte met sy sewende oorwinning in nege renne vanjaar verdien. Dit was sy 42ste loopbaanoorwinning.

Hy het nou 226 punte op die puntelys en is 81 punte voor sy spanmaat Pérez (148), gevolg deur Alonso (129), Lewis Hamilton (108), Sainz (96) en Leclerc (72).

In die vervaardigersafdeling is Red Bull los voor met 377 punte, gevolg deur Mercedes (178), Aston Martin (172) en Ferrari (158).

Die gene loop baie diep in die Verstappen-gesin.

Volgens die Red Bull-webwerf was sy pa, Jos, ʼn F1-jaer tussen 1994 en 2003 (hy was twee keer in sy loopbaan op die podium, maar kon nooit wen nie). Sy ma, Sophie Kumpen, was ʼn Belgiese knortjor-renjaer en sy oom Paul Kumpen, die Belgiese tydrenkampioen in 1987.

Max Verstappen het op 17-jarige ouderdom op 15 Maart 2015 sy debuut as F1-jaer gemaak, sonder dat hy ʼn lisensie (hy was te jonk daarvoor) gehad het.

Dié rekord sal in die annale bly staan, aangesien die motorrenbase dit nou verpligtend gemaak het dat jaers 18 jaar oud moet wees.

Intussen laat spat Verstappen die een na die ander rekord en het hy geen gelyke in vanjaar se reeks nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.