Verstappen spring voor weg in Kanada

Max Verstappen (Foto: Jim WATSON / AFP)

Max Verstappen, die wêreldkampioen en voorloper in vanjaar se bestuurderskampioenskap, het die nat toestande trotseer en spring vanaand voor weg in die Kanadese Grand Prix.

Die renjaer waaroor almal praat, is egter tweemalige wêreldkampioen Fernando Alonso. Hy spring in die tweede plek weg in sy Alpine. Verstappen was net 0,7 van ʼn sekonde vinniger as die Spanjaard. Die Kanadese Grand Prix is Verstappen se 150ste wedren. Dis die 15de keer wat hy eerste wegspring.

Charles Leclerc het in die vorige vier wedrenne voor weggespring, maar hy het gister ʼn nuwe krageenheid vir sy Ferrari verkies en spring heel agter weg. Sy spanmaat, Carlos Sainz, spring in die derde plek weg.

Die ander renjaer waaroor baie gepraat word, is Lewis Hamilton en sy Mercedes. Hy spring in die vierde plek weg. Kevin Magnussen en sy Haas-spanmaat Mick Schumacher spring in die vyfde en sesde plek weg. Dit is Schumacher se beste wegspringplek sedert hy verlede jaar by Formule Een aangesluit het.

Esteban Ocon in die tweede Alpine is sewende en George Russel in die tweede Mercedes is in die agste plek.

Die wedren begin vanaand 20:00 Suid-Afrikaanse tyd.

Aston Martin se Kanadese renjaer Lance Stroll. (Foto: Jim WATSON / POOL / AFP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.