Wêreldbeker-netbal: Uganda beëindig Proteas se drome

(Foto: Netball South Africa/Twitter)

Die Proteas se Wêreldbeker-netbalveldtog het Sondag in Kaapstad in groot teleurstelling geëindig toe hulle met 49-47 deur Uganda in die uitspeelwedstryd om die vyfde plek geklop is.

Dit beteken dat die Proteas, ʼn span van wie vooraf so baie verwag is, die toernooi in die sesde plek afgesluit het en hul vyfde plek op die ranglys kwyt is.

Shadiah Nassanga het die eerste slag geslaan toe sy Uganda kort ná die senterafgooi met 2-0 laat voorloop het.

Maar die Proteas het teruggeveg, hoewel Uganda ná die eerste kwart met 12-11 voor was.

In die tweede kwart het die Proteas se Australiese afrigter, Norma Plummer, die kaptein, Bongi Msomi, na aanvallende vleuel geskuif en Izette Griesel na senter.

Die wedstryd het steeds baie gelykop verloop en ná die tweede kwart was die telling 23-23.

In die derde kwart het Uganda weer sy neus voorgekry.

Aan die Proteas se kant is Khanyisa Chawane opgestuur om Griesel te vervang, wat ʼn stamp (bloed) aan haar gesig opgedoen het toe sy bal onderskep het.

Uganda het met ʼn voorsprong van 39-37 afgesluit.

Spanning het in die laaste kwart opgelaai en die groot geesdriftige skare, wat bankvas agter die Proteas gestaan het, het elke punt toegejuig.

Uganda was met slegs twee punte voor, maar Nichole Taljaard het die Proteas met 40-40 laat gelyk trek.

Uganda het sy voorsprong tot 42-40 gerek.

In ʼn laaste poging is Owetho Ngubane in Taljaard se plek opgestuur, maar Uganda het besit behou deur met ʼn rits aangeë die Proteas te frustreer, voordat die wedstryd in sy guns geëindig het.

Aan die einde het Uganda 60% van die besit gehad en die Proteas slegs 40%.

Uganda was ook meer akkuraat en het ʼn doel-slaagsyfer van 88% gehad, teenoor die Proteas se 84%.

Suid-Afrika se Elmeré van der Berg was in die kol met 36 van haar 43 pogings en Taljaard het met 11 van haar 13 pogings geslaag.

Uganda se Mary Cholhok, wat 2,.01 m lank is, is as die waardevolste speler van die wedstryd aangewys nadat sy met 29 van haar 32 doelskote geslaag het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

piet ·

Ek het mos nou die dag al gese die amateurs van Uganda is beter as ons blommetjies en daar bewys hulle dit. Baie terleurstellende tuistoernooi vir Proteas wat afsak op die wereldranglys en nou nie eers meer die beste in Afrika is nie. Verstaan nie hoekom die afrigter nie die doelskieter (wat hoeveel doele gemis het) en Taljaard (wat hoeveel besit afgestaan het) vervang het nie. Hier moet verseker beter talent in die land wees wat ontgin moet word. Begin maar kyk tussen die massas in die townships en op die plattelande van KZN en die Oos-Kaap vir “natuurlike atlete” wat die span kan versterk. Net ‘n kwessie van die talent te identifiseer en te ontwikkel.

George ·

Meeste van ons dames speel oorsee hul sport, en speel bitter min as n span saam, en dit wys.

Theresa ·

Daar was van die begin af hopeloos te veel verwag van die span…

piet ·

Ek sou tevrede gewees het as hulle dieselfde spelpeil kon handhaaf wat hulle teen NZ gedoen het maar die wedstryde daarna was regtig swak gewees. Selfs as jy terugdink na die Jamaika wedstryd wat hulle baie ver berloor het (en hulle ‘n plek in die semi gekos het) was baie swak (alhoewel Jamaika baie goed is maar nogtans). Ek dink net hulle het het die hele toernooi (behalwe die NZ wedstryd) ‘n swakker spelpeil as wat hulle tot staat is, gehandhaaf en dis terleurstellend.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.