Afrigter deel in Ntando se vreugde

Neil Cornelius vier saam met Ntando Mahlangu fees. Foto: Verskaf.

Toe Ntando Mahlangu gister in Tokio die wêreldrekord met ’n allemintige sprong van 7,17 m laat spat het, het die vreugdevure ook hoog in Neil Cornelius se huis gebrand.

“Ek dink dit is die hardste wat ek nog ooit geskree het; my vrou het selfs nadergestorm om te kyk of ek oukei is!” het Cornelius gesê.

Net vóór daardie merkwaardige laaste sprong het Cornelius ’n vinnige WhatsApp-boodskap na Mahlangu gestuur: “Ontspan. Moenie dinge oordink nie. Wees vreesloos en glo in jouself.”

“Tydens die oefensessie het hy gereeld ’n afstand van 6,80 m gespring en dit was duidelik dat iets groots om die draai is. Die gemak waarmee hy 7,02 m en toe 7,17 m gespring het, was egter ’n baie lekker verrassing.”

Volgens die atletiekafrigter werk hy en Mahlangu nou maar eers ’n paar weke saam.

“Toe Ntando my gevra het om hom te help, wou ek by hom weet hoe toegewyd hy aan die hele proses sal wees. Hy het geantwoord dat hy sy voorbereidingswerk ernstig sal opneem, en dit is presies wat hy toe gedoen het.”

Cornelius beskryf die steratleet as gedissiplineerd, ’n perfeksionis en iemand wat altyd bereid is om honderd persent te gee.

Een van die grootste uitdagings was om seker te maak dat Ntando se spronge nie sy rug seermaak nie; dit is juis die rede waarom hy vir ’n hele rukkie nie aan die item deelgeneem het nie.

“Ek het besef dat ons aan sy tegniek sal moet werk om die trefkrag op sy rug te verminder wanneer hy land.”

Mahlangu het aan sy landingstegniek op hoogspringmatte geskaaf en eers toe Cornelius hiermee tevrede was, kon hy weer die sand laat spat.

En hoe het hy dit nie laat spat nie!

Die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria het Mahlangu op sosiale media gelukgewens.

“Ntando word gewoonlik met die 200 m en 400 m verbind, maar het soos gewoonlik vir hoendervleis in die verspringput gesorg. Ons is voorwaar trots op hom!” het Affies in ’n Facebook-inskrywing gedeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Harley Davidson ·

Uitstekend, as ‘n ou affie leerling baie geluk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.