Drawwers laat tekkies klap by Monument

(Foto: Verskaf)

Nagenoeg 1 000 atlete het op 25 November deelgeneem aan die Voortrekkermonument-halfmarathon in Pretoria.

Die wedloop is vir die vierde keer deur die Voortrekkermonument Draf- en Stapklub aangebied en weens die gewildheid daarvan is daar besluit om dit ʼn permanente instelling op Pretoria se sportkalender te maak.

Saam met die halfmarathon was daar ook ʼn 10 km-wedloop en ʼn 5 km-pretdraf waaraan atlete kon deelneem.

Teen 06:00 op dié betrokke Saterdag het die kwik reeds op 21 °C gestaan. Maar nóg die warm toestande, nóg die steil bulte het die atlete ontmoedig. Toe die wegspringskoot klap het die deelnemers voor die trappe van die ikoniese monument laat waai.

(Foto:Verskaf)

Die roete het bekende bakens soos die Muur van Herinnering, die Erfenissentrum en Fort Schanskop ingesluit. Dit was veral die opdraande na Schanskop wat die deelnemers se uithouvermoë beproef het.

Ondanks die uitdagings het die voorste atlete sommer vroeg reeds die pap dik aangemaak.

Geraldine van Dyk het die vroue-halfmarathon met ’n tyd van 1:50:10 gewen, terwyl Teboho Mohajane die eerste man oor die wenstreep was. Sy tyd was 1:28:15.

In die 10 km-wedloop was Tshepo Mathapo (46:50) en Bernice Puleng (48:45) die wenners.

Hoewel ʼn hele paar atlete moes handdoek ingooi weens die versengende hitte, het 885 deelnemers die wedloop voltooi.

Met die jongste weergawe van die Voortekkermonument-halfmarathon iets van die verlede, word daar reeds planne beraam vir volgende jaar se wedloop. Goeie nuus vir padatelete is dat die wedloop reeds ’n plek op die hardloopkalender vir die laaste naweek van November kon vind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

George ·

Almal darm dit oorleef, en nie iemand in die kompitisie beroof of moor nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.