Elmé glimlag breed ná gooi van amper 60 m

Elmé Botha laat waai op die atletiekveld. (Foto: Verskaf)

Die 23-jarige Elmé Botha, ʼn BCom-student in haar finale jaar aan die Nelson Mandela-universiteit, het ook groot drome op die atletiekveld.

Die kranige hamergooi-atleet het onlangs tydens die provinsiale atletiekkampioenskap op die Madibaz-stadion in Gqeberha (Port Elizabeth) haar eie persoonlike beste afstand, asook die provinsiale rekord na 58,80 m verbeter.

Dinge het weliswaar nie heeltemal volgens plan met haar eerste twee gooie verloop nie en sy vertel dat sy net moes kalm bly ná die mislukte pogings.

Botha kon egter met die volgende gooi haar beste afstand van die seisoen vier, waarna sy met haar vierde poging die provinsiale rekord verbeter het.

Met die adrenalien wat deur haar are bruis, is die rooi vlaggie ongelukkig weer eens in haar rigting geswaai, maar sy is ongetwyfeld in haar skik met die afstand wat sy bereik het.

“Ek dink net ek was hopeloos te opgewonde. My finale gooi was ook ʼn goeie een en ek kon nie glo dat ek sulke afstande kon bereik nie.”

Nodeloos om te sê, het haar doelwitte ook ʼn hupstoot van ʼn paar meter bygekry en sy mik na ʼn medalje by die universiteitskampioenskap in Stellenbosch, terwyl sy graag met ʼn gooi van verder as 60 m by die nasionale kampioenskap wil spog.

“Toe ek destyds as ʼn graadagtleerder met hamergooi begin het, het iemand vir my gesê dat ek dit nooit sou maak nie. Ek wil hulle bitter graag verkeerd bewys – ek is immers ʼn baie passievolle atleet.”

Benewens haar voorkeuritem getuig ʼn paar nasionale ouderdomsgroeptitels ook van haar sukses as ʼn diskusatleet.

Sy erken dat sy nooit genoeg vir haar ouers kan dankie sê nie; hulle is juis haar grootste ondersteuners.

Dan werk sy ook hard in die gimnasium aan haar plofkrag onder die wakende oog van afrigter Charlie Koen.

“Hopelik werp my harde werk vrugte af by die volgende paar groot byeenkomste.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.