Gerda Steyn se Comrades midde Covid-19

Gerda Steyn (Foto: Sibonelo Ngcobo/African News Agency/ANA)

Met die virtuele Race the Comrades Legends-inisiatief om die draai, gesels Gerda Steyn – Suid-Afrika se goue langafstandmeisie – vanuit Dubai oor haar liefde vir die Comrades, die Covid-19-pandemie en haar vooruitsigte vir die res van die jaar.

Steyn het verlede jaar geskiedenis gemaak toe sy die eerste vroue-atleet geword het om die Comrades-roete tussen Durban en Pietermaritzburg in ’n tyd vinniger as ses ure af te blits. Haar spogtyd van 05:58:53 het Elena Nurgalieva se vorige rekord van 06:09:23 met meer as tien minute verpletter.

Nodeloos om te sê speel die Comrades-marathon ’n reuse-rol in haar lewe.

“Die wedloop is waar ek my liefde en passie vir die sport ontdek het. Deesdae kan ek nie my hardloop-loopbaan sonder die Comrades indink nie,” het sy gistermiddag aan Maroela Media gesê.

Volgens Steyn is die Comrades nie net belangrik vir professionele atlete wat poog om eerste die wenlint te breek nie, maar vir elke liewe deelnemer.

“Dit is nie net ’n resies nie, dit is ’n lewenskeuse en dit verander jou lewe vir altyd.”

Maar die Covid-19-pandemie het wêreldwyd ’n negatiewe invloed op sport, en die organiseerders van die Comrades was genoop om die gewilde ultramarathon te kanselleer. ’n Besluit wat laas gedurende die Tweede Wêreldoorlog geneem is.

Ander internasionale wedlope het ook in die slag gebly, terwyl inperkingsregulasies beteken dat talle atlete selfs nie eens toegelaat was om buite te oefen nie.

Die Suid-Afrikaanse kampioene Edward Mothibi en Gerda Steyn ná verlede jaar se spogoorwinnings. (Foto: Motshwari Mofokeng/African News Agency/ANA)

“Vir atlete is dit ’n baie slegte tyd, maar die belangrikste ding wat ek in hierdie onsekere tye geleer het, is dat jou sielkundige ingesteldheid jou gemoed en motivering bepaal. Ons is almal in dieselfde bootjie en jy moet positief bly. Gelukkig kon ek my basisfiksheid behou en ek is daarvan oortuig dat ek gereed sal wees wanneer wedlope weer eendag mag wegspring.”

Sy bieg egter dat dit moeilik is om dieselfde fiksheidstandaard te handhaaf.

“Ek is seker daar is baie atlete wat vir die eerste keer in hul loopbane gedwing is om só ’n lang breek te neem. Daar wag ’n interessante tyd op ons en ek vermoed dat atletiek en padwedlope gewilder as ooit vantevore sal wees; juis omdat almal so opgewonde wag om weer deel te neem.”

Sy is ook opgewonde oor die Comrades-organiseerders se virtuele wedloop-inisiatief.

“Ek is trots op die wyse waarop hulle die uitdaging aangepak het – dit is tans ’n baie moeilike tyd om iets nuuts te probeer. As ek net kyk na die aantal deelnemers wat reeds vir die virtuele resies ingeskryf het, wys dit dat hulle ook die ondersteuning van die publiek geniet.”

Steyn is een van Bavaria 0,0% se ambassadeurs en saam met dié trotse borg word 200 gratis inskrywings aan gelukkige atlete weggegee, terwyl daar ook vyf sporthorlosies op die spel is.

“Dit maak dit ongetwyfeld die moeite werd om in te skryf, terwyl dit ander ook motiveer om deel te neem.”

Maar hoe gaan haar roete vir Sondag se virtuele resies lyk?

Gerda Steyn (Foto: Comrades-marathon/Twitter)

“Ek gaan 21 km hier in Dubai aanpak. My roete is baie plat, want alles hier rond is plat, maar die ongelooflike hitte sal vir ’n lekker uitdaging sorg.

“My mikpunt vir die virtuele wedloop is om dit net te geniet. Ek gaan saam met ’n klein groepie vriende hardloop (soos wat afsonderingsregulasies in Dubai stipuleer) en dit net geniet. Sodoende sal ek nie te veel dink aan die ‘regte’ Comrades nie; maar om die feit te vier dat ons nog gesond en bevoorreg is om te hardloop.”

Selfs in die moeilikste tye is daar hoop en Steyn sien uit na die dag wanneer dinge weer na “normaal” kan terugkeer.

“Ek kan nie wag vir wanneer ons weer in groot groepe kan saam hardloop en in die duisende by ’n wedloop kan aantree nie. Ons almal mis ons vriende, die kameraderie op die pad en die onderlinge kompetisie.”

Soos talle atlete, sal Gerda Steyn se passie vir draf, én die Comrades-marathon, nie sommer geblus word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Raakvatter ·

Very nice Gerda. Goed vir jou!! Hoop jy hardloop sommer ‘n goeie tyd! Ek was altyd fiksheids bewus maar het oor die paar jaar heen lui geraak. Met trots kan ek nou sê dat die afsondering my weer lus gemaak het vir draf, oefen en gesond wees. My tye en afstande word al hoe beter. Nou deesdae voel ek skuldig om in te lê. gaan eerder entjie draf. Behalwe in hierdie tanse bibber weer. Die pad sal my Maandag weer sien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.