Luxolo Adams wys hy kan medalje wen

Die Suid-Afrikaanse blits Luxolo Adams. (Foto: Geoffroy VAN DER HASSELT / Diamond League AG)

Die Suid-Afrikaanse blits Luxolo Adams het gewys hy kan by die Wêreldkampioenskap ʼn medalje in die 200 m vir mans wen. Hy het gister sy persoonlike beste tyd van 19,82 sekondes gehardloop om die item by die Diamantliga-byeenkoms in Parys te wen.

Dit was die 25-jarige Adams se eerste Diamantliga-oorwinning. Hy het boonop met die Olimpiese kampioen André de Grasse afgereken.

Adams se tyd was die tweede vinnigste ooit deur ʼn Suid-Afrikaner. Net Clarence Munyai se 19,69, wat die SA rekord is, was vinniger.

Adams se tyd is die vierde vinnigste in die wêreld vanjaar. Hy kon net vyfde eindig by die Suid-Afrikaanse kampioenskap en het nie eers vir die Afrika-byeenkoms in Mauritius gekwalifiseer nie.

Die aand het aan veteraan-naelloper Shelly-Ann Fraser-Pryce behoort. Die 35-jarige Jamaikaan het die 100 m vir vroue in 10,67 sekondes gewen. Dit ewenaar haar vinnigste wêreldtyd wat sy verlede maand in Nairobi opgestel het.

Sy het reeds nege wêreldtitels en sal sake uitspook met haar landgenoot en Olimpiese kampioen, Elaine Thompson-Herah.

Die Wêreldkampioenskap begin op 15 Julie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.