Semenya het ‘meer testosteroon as meeste mans’

Caster Semenya. )Foto: Reg Caldecott)

Caster Semenya het meer testosteroon as die meeste mans en daarom het sy ongetwyfeld ʼn voordeel.

Dít volgens José María Odriozola, ʼn Spaanse professor in biochemie en lid van die Internasionale Vereniging vir Atletiekfederasies (IAAF), wat dié opmerking in die Spaanse tydskrif Sport gemaak het.

Odriozola, die voormalige president van die Spaanse atletiekfederasie, het sy steun toegesê aan die testosteroonbeperkings wat onlangs vir vroue-atlete ingestel is. Hy hou vol Semenya is ʼn “biologiese man”.

“Sy sê die IAAF is teen haar, maar die bepalings geld almal. Semenya het meer testosteroon as die meeste mans en dit gee haar sonder twyfel ʼn voordeel,” het Odriozola gesê.

Volgens hom is die IAAF se bepalings daarop gemik om billike mededinging te verseker.

“Haar saak spruit uit die Wêreldkampioenskap wat in 2009 in Berlyn aangebied is. Sy het XY-chromosome, soos mans, asook ʼn stel hormonale, interne kontrole wat haar hiperandrogeen maak.”

Semenya het in Mei vanjaar ʼn grensverskuiwende saak teen die IAAF voor die hof vir sportarbitrasie (CAS) verloor, wat beteken sy moet medikasie gebruik om haar testosteroonvlakke te verlaag as sy voortaan aan spesifieke items wil deelneem.

Die hof het bevind die bepalings ís diskriminerend, maar ook dat die beleid “nodig, billik en proporsioneel” is om regverdigheid in vrouesport te verseker.

Die 28-jarige middelafstand-medaljewenner gaan volgende maand die IAAF Wêreldkampioenskap in Katar weens die uitspraak misloop. Sy het, hangende die appèl, aanvanklik toestemming gekry om deel te neem, maar ʼn Switserse federale hooggeregshof het dié appèl omgekeer.

Semenya voer aan haar testosteroonvlakke is natuurlik hoog en diegene wat haar steun sluit in die Wêreld- Mediese Vereniging (WMA) en die Verenigde Nasies se Menseregteraad.

Ingevolge die nuwe IAAF-bepalings word vroue-atlete met verhoogde testosteroonvlakke verplig om dit medies te laat verlaag, sodat hulle internasionaal mag meeding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Jeni ·

Ek wonder of mense weet hoe hard moet sy oefen om wereldklas te wees? Sy stap nie
net op die baan en hardloop omdat sy n “biologiese man” is nie.

Schalk ·

Jeni. Jy nis die hele punt. Dit gaan oor regverdigheid sussa

Miekie ·

As sy gaan tennis speel sal sy die drie top manne moet klop in 3 stelle

Lou ·

Die regte vrouens wat teen haar deelneem moet net so hard oefen maar hulle kan nie wen nie want hulle het nie die natuurlike voorsprong nie en mag nie hulle testosteroon vlakke kunsmatig verhoog nie. Ek dink die IAAF is 100% reg met hulle bepalings. Maak die speelveld gelyk vir almal anders gaan daar nie meer belangstelling in atletiek wees nie.

Veer ·

Ek kan nie dink dat enige iemand hierdie onregverdigheid, kan verdedig nie! Ek weet ook nie hoe ontvang “sy” ‘n medalje en dink dat sy dit verdien het nie!

waarheid ·

Ek stem saam met Veer.
Wel nou weet almal dat sy die medaljes nie werklik verdien nie. Wonder of sy dit besef?

Annie ·

Ek was verstom anderdag toe ek Caster Semenya se stem hoor; sy het op die televisie gepraat. Haar stem is so grof soos ‘n man s’n.

Ek ondersteun die beweging om die speelveld gelyk te maak vir die damesatlete.

Sarie ·

Miskien moet die vroue atlete wat teen haar moet meeding se testosteroonvlakke verhoog word.

koos ·

Eish, en ons word elke dag in die land vertel mans en vroue is gelyk. Hoe lank nog voordat almal behandeling moet kry om almal gelyk te maak?

Johanna Botha ·

Los die vrou uit …sy is geneties so en dit is haar voordeel …maw sy is so geskape !

Dr. Rugby ·

Johanna, volgens oorlewering het die atleet se ma in n malaria-gebied gebly en gereeld malaria pille gedrink. Die bestanddeel wat in die malariapil voorkom, DDT, wat net soos die Zika-virus defekte by geboortes veroorsaak, kon hier ook n rol gespeel het.

Papsak ·

Dr Rugby,
jy praat twak. Ekskuus om so grof te wees.
Watter malaria pil bevat DDT?
Wys vir my ‘n wetenskaplike studie wat DDT as die rede vir geboorte defekte uitwys.
Volgens oorlewering drink 99,9% van pemanente inwoners in malaria endemiese areas, nooit malaria pille nie. Hierdie stelling is uit my duim gesuig.

Apools ·

Malaria pille wat DDT bevat ? Net ‘n vinnige opskerping op die chemie malaria pille bevat gewoonlik quinine in een of ander vorm. DDT is ‘n insekdoder waarmee stilstaande waterbronne bespuit is om muskietlarwes te dood. Jou chemie werk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.