Wayde teleurgesteld ná sukkelvertoning

Wayde van Niekerk voor Donderdag se 400 m-eindronde in Boedapest. (Foto: Jewel Samad/AFP)

Wayde van Niekerk kon nie op sy goeie vertonings in aanloop tot die Wêreldkampioenskap voortbou nie en hy het Donderdag sewende in die eindronde van die 400 m-item in Boedapest geëindig.

Die Suid-Afrikaner, wat in baan twee weggespring het, kon aanvanklik by sy teenstanders bly, maar hy het sleg stoom in die pylvak verloor.

Hy moes uiteindelik met ʼn tyd van 45.11 sekondes tevrede wees; aansienlik stadiger as sy vertonings in Pole (44.08 sekondes) en by die nasionale kampioenskap in Potchefstroom (44.17 sekondes).

Al twee dié tye sou vir hom die goue medalje in Boedapest besorg het.

Jamaika se Antonio Watson is die uiteindelike wenner met sy tyd van 44.22 sekondes, gevolg deur Groot-Brittanje se Matthew Hudson-Smith (44.31 sekondes) en Quincy Hall (44.37 sekondes) van die VSA.

“Dit is baie frustrerend en ʼn groot teleurstelling en ek moet aanspreeklikheid vir my vertoning aanvaar. Ek is immers die een wat by die wegspringblokke aangetree het en met ʼn ondergemiddelde lopie vorendag gekom het. Dinge het glad nie reg vir my verloop nie,” het Van Niekerk gesê.

Die 31-jarige atleet is die wêreldrekordhouer in die item nadat hy by die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro atletiekliefhebbers op hul voete gehad het met sy blitsige tyd van 43.03 sekondes.

ʼn Ernstige kniebesering het vroeër gedreig om sy atletiekloopbaan te ontspoor maar te danke aan sy deursettingsvermoë en harde werk is hy weer terug op die internasionale verhoog.

Dan kon Luxolo Adams (20.44 sekonde), Sinesipho Dambile (20.28 sekondes) en Sean Maswanganyi (20.65 sekondes) nie na die 200 m-eindronde deurdring nie.

Dambile het wel die beste tyd van sy loopbaan in sy wedren gehardloop.

Suid-Afrika kon nog nie ʼn enkele medalje by die Wêreldkampioenskap inoes nie.

400 m-eindronde:

  1. Antonio Watson: 44.22 sekondes
  2. Matthew Hudson-Smith: 44.31 sekondes
  3. Quincy Hall: 44.37 sekondes
  4. Vernon Norwood: 44.39 sekondes
  5. Sean Bailey: 44.96 sekondes
  6. Havard Ingvaldsen: 45.08 sekondes
  7. Wayde van Niekerk: 45.11 sekondes
  8. Kirani James (gediskwalifseer)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Karoo ·

Wayde, jy het jou beste gegee, was wonderlik dat jy ons kon verteenwoordig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.